Oogspesialis met Goddelike roeping gee aan blindes hul sig terug
Dit was nie die eerste keer dat dr. Gouws by so ‘n uitputtende marathon-operasiedag betrokke was nie. Hy doen dié welwillendheidswerk in sy vrye tyd omdat hy sy taak as ‘n Goddelike roeping beskou.
VEREENIGING. – Staatshospitale word dikwels gekritiseer oor swak diens en beweerde onprofessionele optrede. Die Vaaldriehoek is egter geseënd met een van die kosbare skatte in die staat se gesondheidsdienste: Dit is die oogkunde-afdeling en -teater van die Sebokeng-hospitaal, wat kan spog met van die beste diens en behandeling waarvoor ‘n pasiënt maar kan vra.
Dit is hoofsaaklik te danke aan dr. Precious Phatudi, wat met groot toewyding in beheer van die hospitaal se oogkunde-afdeling staan.
Dr. Phatudi het vroeër vanjaar ‘n plaaslike oogspesialis (oftalmoloog) in privaatpraktyk, dr. Cornelis Gouws, gevra om in Oktober gedurende Nasionale Oogbewustheidsmaand, by Sebokeng-hospitaal se geborgde Katarakchirurgiedag betrokke te raak. Met sy passie vir die oogkunde en sy groot hart vir mense, het hy dadelik ingestem.
Die bepaalde dag, 3 Oktober, het te midde van intensiewe voorbereiding aangebreek. Dertig voorafgekeurde pasiënte wat blind of tegnies blind was weens katarakte, het van vroegoggend af opgewonde reggestaan om deel van die hospitaal se marathon-chirurgiedag te word. Meeste van hulle was reeds twee jaar of langer op die staat se waglys vir ‘n katarak-operasie. Staatspasiënte wag normaalweg meer as drie jaar op so ‘n operasie.
Elkeen van die pasiënte het ‘n eie verhaal gehad om te vertel, en elkeen het gedroom van die dag dat hulle weer kon sien. Daar was onder andere ‘n ouma van 78 wat nooit op skool was nie en nie kon wag om te leer lees en skryf nie.
Buiten vir een vrou wie se operasie weens haar hoë bloeddruk nie kon voortgaan nie, het die res se chirurgie volgens plan verloop, en na 10 ure kon dr. Gouws en die bekwame teaterpersoneel terugkyk op die dag se harde maar bevredigende werk. Volgens die hospitaal gaan dit uitstekend met die pasiënte wat reeds teruggekom het vir hul eerste opvolgondersoeke.
Dit was nie die eerste keer dat dr. Gouws by so ‘n uitputtende marathon-operasiedag betrokke was nie. Hy doen dié welwillendheidswerk in sy vrye tyd omdat hy sy taak as ‘n Goddelike roeping beskou. Jare gelede, as mediese student aan die Universiteit van Pretoria, het hy verskillende spesialisvelde soos Oogheelkunde, oorweeg. Sy besluit is egter eers finaal geneem toe hy in sy hospitaaljaar tot bekering gekom het en ‘n prominente vrou tydens ‘n Christelike seminaar vir hom gesê het dat die Here sy werk sou seën as hy Oogheelkunde kies.
Hy het in die opvolgende jare ‘n skatkis van wêreldklas-kennis bymekaargemaak, wyd gereis en baie ervaring opgedoen, onder andere in Thembisa, Garankua, Pietersburg, en sewe jaar in Bethlehem, waar hy ander oogspesialiste opgelei het en sommer ook basiese Sotho leer praat het. Hy het ook 2½ jaar in die buiteland op die Kaaiman-eilande gewerk.
Hy en sy vrou Ebie het hulle intussen in Parys (Vrystaat) gevestig, waar hy sy privaatpraktyk bedryf.
Hy is tans ook verbonde aan Ocumed in Vanderbijlpark en word as ‘n besonder veelsydige oftalmoloog beskou: Hy spesialiseer nie net in katarakchirurgie nie, maar ook in oog-laserbehandeling en het ‘n spesiale belangstelling in retina-operasies. Daarby is hy ‘n kundige op die gebied van gloukoom en diabetiese oogsiektes, ongeag of die pasiënt ‘n baba of ‘n senior burger is.
Hy is tans ook een van min oftalmoloë in die omgewing wat ooglid-regstellings (okuloplastiese chirurgie) doen.
Dié pa van twee seuns is ‘n aktiewe buitelugmens wat hou van hengel, tuinwerk en houtwerk – alles aktiwiteite waarvoor mens jou oë baie nodig het. Omdat hy sy eie sig so hoog ag, wil hy die voorreg ook graag teruggee aan dié wat dit verloor het.
Stuur gerus ‘n e-pos na admin@drcgouws.co.za of skakel 072 948 2881 (Parys) of (016) 982 4020 (Vanderbijlpark) om meer oor oogkwale en die behandeling daarvan uit te vind.




*************************************************************************************************
