Local newsNewsNews

ELM verkiesings: wat ‘n teleurstelling

VANDERBIJLPARK. - “Dit was ‘n lang pad, ons het hard geveg, is uitgeput en natuurlik teleurgesteld dat die ANC weer in ‘n magsposisie in Emfuleni is.”

Dit is rdl. Gerda Senekal, leier van die VF Plus in Emfuleni, se gevoelens oor Maandag se eerste raadsvergadering sedert die verkiesing.

Volgens haar was die grootste teleurstelling dat die New Horizon Movement wat teen alles van die ANC gestaan het, op die einde toe wel hul steun aan die ANC gegee het tydens die verkiesing van ‘n nuwe speaker, hoofsweep en burgemeester.

“Mens kan net wonder wat daar aan die kleiner partye belowe is om hul steun te kry. Ons sal dit dalk kan agterkom tydens die volgende raadsvergadering oor ‘n week, wanneer die burgemeester se komiteelede bekend gestel word,” sê rdl. Senekal.

Die ANC se speaker het met 46 teen die opposisie se 44 gewen, die hoofsweep van die ANC met 45 teen 44 stemme en die ANC se kandidaat vir burgemeester met 47 teen 43 stemme.

Met net ‘n paar stemme meer kon die DA se Dady Mollo ons nuwe burgemeester gewees het. So naby maar tog so ver!

Dady Mollo van die DA was so byna ons nuwe burgemeester.

“Hierdie kleiner partye wat nou saam met die ANC staan het aan hul kiesers belowe dat hulle teen die ANC staan, maar mag en magsposisies het hier die oorhand gekry en dis ‘n bitter pil om te sluk,” meen rdl. Senekal.

Die nou getal stemme waarmee die drie top posisies gewen is, beteken in kort dat die raad verdeeld is. Dit bied egter vir inwoners so ‘n bietjie hoop.

Die koalisie van die ANC met die ses kleiner partye gaan meebring dat al die partye se verteenwoordigers met elke vergadering teenwoordig moet wees om hul meerderheid stemme te verseker.

Dis is ‘n baie onstabiele situasie waarin die ANC hul dus bevind. As een of twee nie opdaag nie, is hulle nie in die meerderheid nie. Dan kan die opposisie hulle uitstem of iets deurdra met meerderheid stemme.

“Intussen sal daar nie veel verandering wees wat dienslewering betref nie, mens weet dinge kan nie oornag verander nie. As mens objektief daarna kyk, kan mens hoop dat die ANC nou wakker geskrik het omdat hul soveel minder steun gehad het uit die gemeenskap, maar nugter weet wat op ons wag,” sê rdl. Senekal.

Sy het afgesluit met die belofte dat die opposisiepartye (in besonder die VF Plus) ‘n groter waghondrol sal speel om vir die gemeenskap se belange te veg.

* Die Sedibeng-verkiesing vind Vrydag plaas (dit sluit Emfuleni, Midvaal en Lesedi in). Hopelik kan die ANC hier gestuit word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button