Local newsNationalNewsNews

Oud-biologie onnie is 96!

Tannie Elmiene Nel is die oudste inwoner van Herfsoord in Vanderbijlpark.

VANDERBIJLPARK. – Tannie Elmiene Nel van Hefsoord het op 21 November 2021 haar 96ste verjaardag gevier. Sy en haar man, Gawie Nel, was vir jare deel van die lief en leed van Hoërskool Vanderbijlpark as biologie onderwysers.

Die egpaar se een dogter, Isabel Breedt, het in ‘n telefoniese onderhoud gesê dat dit nog baie goed gaan met haar ma.

“Vir haar ouderdom is sy baie gesond. Sy drink geen pille nie, behalwe haar vitamiene. My ma woon al 26 jaar in Herfsoord. My pa is in 2013 oorlede.”

Alhoewel Tannie Elmiene reeds baie van haar vriende oorleef het, kuier van haar oud-kollegas wat ook in Herfsoord bly nog gereeld by haar.

Haar skoonseun, Herman Breedt het op die Facebookgroep, Vanderbijlpark Onthou, geskryf dat sy skoonma nou die oudste inwoner van Herfsoord is en dat sy nog baie staaltjies vertel oor insidente en leeringe van haar jare in die onderwys.

Elmiene Nel is gebore in die Vrystaat en het op ‘n plaas in die Koppies omgewing  groot geword.

Haar pa was hoof van die plaasskool. Die klein Elmiene het op vier jaar al saam met haar pa skool toe gegaan omdat sy verveeld by die huis was.

Sy het matriek op ‘n jong ouderdom aan Potchefstroom Gimnasium geslaag en daarna B.sc met onder andere chemie as hoofvak by die destydse PU vir CHO gaan studeer.

Elmiene en Gawie Nel is op 1 April 1950 getroud. Kort na hul troue het Mnr. Nel ‘n pos by die Hoërskool Brandwag in Benoni aanvaar.

In 1957 het die gesin na Koster verhuis. In 1962 het hy ‘n pos by die Hoërskool Vanderbijlpark as biologieonderwyser aanvaar en Elmiene het by die destydse Laerskool Wording vir ‘n rukkie gaan skoolhou.

Kort voor lank was sy ook deel van die Bijler-personeelspan en die res is geskiedenis. Die egpaar het einde 1985 uit die onderwys getree.

Die foto van die Nel-egpaar het in Hoërskool Vanderbijlpark se 1985 jaarblad verskyn.

In die Bijler jaarblad van daardie jaar het die skool geskryf: “Mnr. en mev. Nel, al die Bijlers, die gemeenskap en die onderwysdepartement sê dankie vir die jare van toewyding en vir u bydrae om die naam van die onderwysprofessie hoog te hou. Ons is hartseer om van u afskeid te neem maar wens u net die beste toe vir ‘n geseënde aftrede.”

Die positiewe impak wat Elmiene Nel as onderwyseres gehad het, het duidelik geblyk uit die kommentaar wat Herman se Facebookplasing tot gevolg gehad het.

Mense het dae na haar verjaardag steeds gelukwensinge van heinde en verre geplaas.

So het Leonora Wydeman byvoorbeeld gesê: “Baie geluk, mev Nel⚘ Ek was 1973 in matriek en onthou u as ‘n puik onderwyseres! Ek wens u baie seën en net die allermooiste toe⚘⚘⚘ Leonora Botha.”

Terwyl Adri Dixie Jones Croukamp laat weet het: “Dis n ware gebore onderwyseres, die dame. Sy was my biologie juffrou tot in 1969. Daarna vanaf 1974 het ek die voorreg gehad om saam met haar skool te hou by Vanderbijl Hoër. Goeie jare gewees.”  

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button