Vergadering ontaard in chaos, singery en dansery
'n Vergadering van die Sedibeng Distriksmunisipaliteit het Vrydag (26 November 2021) in chaos ontaard nadat Hein van der Lith, die VF Plus se kandidaat, as hoofsweep verkies is.
VEREENIGING. – Dit was die eerste vergadering sedert die onglangse verkiesing en die nuwe 49 raadslede is ingehuldig.
Daar is toe oorgegaan tot die verkiesing van ‘n speaker, wat met 25 teen 24 stemme na die ANC gegaan het.
Daarna moes ‘n hoofsweep verkies word.
Die VF Plus se kandidaat, Hein van der Lith, is met 25 stemme teen 24 ingestem.
Die ANC was natuurlik geskok en glad nie tevrede met dié uitkoms nie.
Die ANC het beswaar aangeteken en gesê dat die verkiesing nie vry en regverdig geskied het nie.
Kort daarna het die krag afgegaan.
Rdl. Gerda Senekal van die Vryhheidsfront Plus het later aan Vaalweekblad vertel dat die kragopwekker wat gebruik word om die verkiesing op video op te neem, afgesluit en die sleutel verwyder.
‘n Verkiesing kan nie wettiglik voortgaan as daar nie ‘n video-opname is nie.
Meeste van die ANC-raadslede het later uit die raadsaal geloop.
Die DA het na afloop van die chaotiese raadsvergadering sy eie burgemeesterskandidaat, rdl. Tebogo Thlokwe, as die burgemeester van die Sedibeng-distriksmunisipaliteit verklaar.
Die DA voer aan dat die raadsvergadering nooit deur die speaker, rdl. ML Modikeng, verdaag is nie.
“In terme van Artikel 41 van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture, saamgelees met Artikel 31 en die onlangse uitspraak ten opsigte van die saak van die Tshwane-stadsraad het die oorblywende raadslede in die raadsaal ‘n kworum gevorm en ‘n waarnemde speaker verkies.
“Die waarnemende speaker het toe vir nominasies vir ‘n uitvoerende burgemeester gevra.
“Net een persoon is genomineer. Rdl. Tebogo Thlokwe is toe as die uitvoerende burgemeester van die Sedibeng-distrik verkies,” het Dennis Ryder, die DA se voorsitter in die Vaal-streek verduidelik.
