Mnr. Vaal 2021/2 – ‘n Man op ‘n missie
Mnr Vaal wil veral kinders help sodat hulle net kan kinders wees.
VANDERBPIJLPARK. – Mnr Vaal 2021/2, Michael Language kyk mens in die oë asof hy daar dieper wyshede wil soek.
Hy gee outomaties al die basiese antwoorde. Oor ‘n eerste koppie koffie hoor ek hy is een van die Hoërskool Transvalia se matrikulante die jaar.
Op 1 Desember skryf hy sy laaste vraestel, Afrikaans opstelwerk.

“Nee,” beduie hy, “ek kan opstelle skryf, maar mens moet darem tyd hê om te dink ook voordat die woorde op papier vasgelê word. Is anders as ek voor ‘n gehoor moet praat, dis vir my maklik.”
Hy glimlag. So ‘n amperese lui glimlag wat aan sy mondhoeke trek en êrens in sy bruin oë weerkaats. “So ver is die journey om Mnr Vaal te wees nog baie lekker. Is besig, so tussen die vraestelle deur.”
“Ja,” gister het ons heeltemal vergeet om te eet. Daar was net nie tyd nie,” vul verlede jaar se Mnr Vaal en hierdie jaar se Mnr Universal SA, Werner Volschenk aan.
Albei die titels is werkstitels, dus is die twee heeltyd besig om projekte en funksies by te woon, te beplan of af te handel.
Michael beplan om heelwat van sy gemeenskapdiensprojekte vir 2022 rondom kinderhuise en ouetehuise te fokus.
Daardie glimlag wat so net-net in sy oë weerkaats maak weer sy verskyning as hy praat van die lekker dae wat hy vir van die kinderhuise wil reël. “Waar hul sommer net kan speel.
“Ek wil ook van die ander titelhouers so ver as Johannesburg betrek om ‘n groot funksie te reël spesiaal vir kinders wat swaarkry,” beduie hy.
Skielik is daar iets anders in die bruin oë wat so diep kyk.
“Ek lewe elke dag of dit my laaste is. Ek het ook geleer om dankbaar te wees vir alles. Die Vaal se gemeenskap het my gehelp om Mnr Vaal te word en ek gaan probeer om ‘n verskil te maak,” sy stem is beslis.
Dis nie moeilik om te sien dat die jongman dit nog ver gaan bring nie.
Volgende jaar beplan hy om projekbestuur by CTU Training Solutions in Vereeniging te gaan swot.
In Desember wag daar nog so paar projekte en funksies, maar daarna gaan hy darem so bietjie ontspan voor die regte groot werk as Mnr Vaal 2021/2 begin.
