Local newsNews

“Die DA is nederig in oorwinning”- Hoofsweep Rapport – No. 37

"Die Midvaal setels is DA: 19, ANC: 6, EFF: 2, VF+: 2, TYM: 1. Baie dankie aan die Midvaal kiesers vir hierdie mandaat." - Hoofsweep Pretorius

Deur Raadsheer Phil C Pretorius, DA Hoofsweep, Midvaal Plaaslike Munisipaliteit

Die DA is nederig in oorwinning. Wel dit is my opinie na die vlaag van munisipale inhuldigings die afgelope paar weke. My hoop is dat hulle nederig sal bly en dat die publiek hulle ook as nederig sal ervaar. Daar is niks erger as ‘n arrogante, selfvoldane wenner wat ander se neuse in hul nederlae vryf nie. Ons weet natuurlik hoe dit voel. Ons byt op ons tonge wanneer die ANC die Voorsitterskap (Speaker) met twee (2) stemme in Emfuleni wen en dan koggelend dans en lag in ons gesigte. My hoop is dat ons dit self nooit so sal hanteer nie.

Eerder wil ons nederig wees, nederig en dankbaar dat ons gemeenskap ons vertrou om hul dorp te bestuur. Jou huis is jou kasteel, die plek waar jy veilig voel en wat jy koester. Jy soek iemand wat jy kan vertrou om vir jou in jou weerbaarste omgewing te veg en sorg. Daar waar jy moet kan ontspan en gemaklik voel.

Talle mense sal die vlaag van DA oornames in munisipaliteite as ‘n positiewe wending sien. Ander sal terugdeins en sug. Dit is so dat ons ons eie persepsies op situasies projekteer. Die stralekrans-effek beweer dat mens positiewe eienskappe toeken aan persone (entiteite) waarvan jy hou (maak nie saak wat hulle goed of verkeerd doen nie) en die horing-effek daarenteen glo dat negatiewe persepsies sal seëvier as jy nie van iemand hou nie (maak nie saak wat hulle doen nie, reg of verkeerd). Ek grinnik as ek dink aan die gesegde: “no good deed goes unpunished”. Daar sal altyd iemand wees wat nie die waarde of goeie intensies in jou dade sien (of wil sien) nie. Daarom moet ons maar die groter prentjie beskou wanneer iemand jou Saterdag vloek en skel en Sondag vroom langs jou in die kerkbanke sit. Wanneer jy as raadslid al twee dae sonder slaap aan die wateronderbreking werk en inwoners bedank die opposisieparty op sosiale media vir hulle goeie diens (wat slegs ‘n oproep na jou as raadslid op die toneel was) om dit op te los.

Ten minste VIER Wyke in Emfuleni het aan die ANC gegaan agv die deel van die stemme deur kleiner partye op 1 November 2021. Hierdie kleiner partye het geen kans gestaan om die wyk te wen nie maar het die paar stemme by die DA weggeneem wat sou verhoed dat die DA die wyk wen.  Die ANC het die wyke afgevat. Daar is dus ten minste VIER minder DA raadslede (vier setels) op die Emfuleni raad as gevolg hiervan. Die Speaker posisie in Emfuleni is op 22 November 2021 verloor teenoor die ANC 46 – 44 DA.  Die Hoofsweep-posisie is verloor ANC: 45  –  44: DA en die Burgemeester met VIER STEMME,  ANC: 47 – 43: DA. So ook het die ANC Nelson Mandelabaai met een stem gewen en was Modimolle (Nylstroom) ten tyde van saktyd steeds 14-14 gelykop na drie vergaderings. In Modimolle het twee DA Wyke (Wyke 2 en 11) ook die keer aan die ANC gegaan deur stemme wat deur kleiner partye verdeel is. Hierdie stemme vir wyksraadslid tel NIE vir die Proporsionele setels nie en val weg.

Die silwer randjie is dat die gety besig is om te draai. Die ANC het amper in al die SA munisipaliteite gedaal tot onder 50% en nou kan daar selfs met koalisies daadwerklik aandag geskenk word aan dienslewering.  Ongelukkig vat dit dekades om reg te maak wat oor enkele jare verbrou is. By die raadsvergadering van die Midvaal Munisipaliteit op 25 November 2021 is weereens ‘n item goedgekeur wat poog om infrastruktuur te herstel wat die ANC meer as 20 jaar gelede verbrou het. Die herstelwerk vat egter dekades. Al het die DA en sy koalisies in talle munisipaliteite geseëvier sal dit steeds ‘n monumentale poging vat om die skip om te draai en mense sal bloot geduldig moet wees. Emfuleni is egter nog op die wye, oop, blou oseaan, op ‘n roete na nêrens. Maar waar daar ‘n horison is, is daar hoop. Hou hierdie spasie dop.

Midvaal het bo  verwagting vanaf 59% na amper 64% DA steun gegroei en 12 van die 15 Wyke gewen. Die Midvaal setels is DA: 19, ANC: 6, EFF: 2, VF+: 2, TYM: 1. Baie dankie aan die Midvaal kiesers vir hierdie mandaat. Dit is ʼn verantwoordelikheid wat ons nie ligtelik opneem nie en in drasties meer uitdagende omstandighede sal ons bly poog om die vertroue wat u in ons geplaas het gestand te doen. 

Die vooruitsig is nou na die 2024 Nasionale verkiesing en ‘n DA Gauteng Provinsie. As ons kyk wat die DA in die Wes-Kaap vermag is Gauteng se potensiaal legio. Met die regte Premier… is ons koppe deur.

Trotse Midvaal groete, Phil.

Web: www.midvaal.gov.za

Facebook: Midvaal Local Municipality en Midvaal News Network

Tel: 0861 643 8225

MyMidvaal App

****************************************************************************************

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button