Verskeie top vertonings by die ERT
Die ERT bied top vermaak op 4, 5, 6 en 7 Desember. Bespreek vandag jou kaartjies!
SASOLBURG. – Daar is geen einde aan kwaliteit vermaak by die Etienne Rousseau Teater in Sasolburg in die komende week nie.

Die bedrywighede skop af met ‘n eenmanvertoning deur Bryan Schimmel.
Sy vertoning, More than a handful, is slegs vir volwassenes en vertel sy lewensverhaal deur musiek, sang en stories.
Dis die eerste keer wat Schimmel sy buiging op die ERT verhoog maak.
Hy het in ‘n telefoniese onderhoud gesê die vertoning neem die gehoor op ‘n reis terug in tyd, van sy 11de jaar tot nou.
Die vertoning beloof om jou te laat lag en te laat huil, maar op die einde is die ‘n goed voel storie wat die gehoor sal geniet.
Die eerste vertoning is Saterdag, 4 Desember om 15:00 en die tweede een is Sondag, 5 Desember om 14:00. Kaartjies is R150 (60+) en R180 (-60). Bespreek by WhatsApp 0632175147.
A Christmas Carol

Maandag, 6 Desember om 17:30 kan oud en jonk naderskuif vir ‘n vertoning van A Christmas Carol met Jim Carrey as Ebenezer Scrooge wat deur spoke uit sy verlede, hede en toekoms die waarde van Kersfees geleer word.
Kaartjies beloop R100 per persoon en kan bespreek word deur te WhatsApp na 0632175147.
Kersfees met André Rieu

Dan die ekstra groot lekkerte in hierdie week se kerskous.
Die ERT Fliek Klub bied op Dinsdag, 7 Desember André Rieu se Christmas with André vertoning.
Hierdie DVD word slegs in geselekteerde teaters vertoon en is opgeneem by die nuwe Winterpaleis in Maastricht, Nederland.
Dit beloof om ‘n uitsonderlike skouspel van sang en musiek te wees.
Kaartjies is slegs R100 per persoon en kan bespreek word by 0632175147.
