Local newsNewsNews

Barrage-polisiebeampte kom toevallig op vermoorde boer af

BARRAGE. -  'n Jong boer van Lindley is Maandag koelbloedig vermoor toe hy geld hier kom haal het vir beeste wat hy verkoop het.

Christian van Tonder (29) wat met Drakensberger-beeste geboer het (ook genoem swart goud), is die derde boer wat binne 24 uur uitmekaar in die Vrystaat vermoor is.

‘n Polisiebeampte het Maandagaand ‘n stilstaande wit Toyota Hilux in die Marlbank-omgewing opgemerk en ondersoek ingestel. Christian is dood in die bakkie aangetref. Daar was ‘n skietwond aan sy nek. Daar was ook verskeie koeëlgate aan die agterruit.

Volgens Sersant Mohlakoana kon daar nog nie bepaal word of items gesteel is nie. Daar is nog geen arrestasies vir Christian se moord nie. Enigiemand met enige leidrade word versoek om Sersant Mohlakoana by 079 694 6963 te kontak.

Vermoorde jong boer, Christian van Tonder.

Christian se moord volg kort op ʼn aanval op die Venter-gesin van Bothaville en die plaasmoord op Johan Prinsloo (64) van Koppies. Laasgenoemde en sy vrou is woonagtig in Kroonstad, maar het ‘n paar keer per week sy beeste op sy kleinhoewe in Koppies versorg.

Danksy goeie samewerking tussen die gemeenskap, die polisie en veiligheidsnetwerke, is verdagtes wat met van dié aanvalle verbind word, in hegtenis geneem. Een van Prinsloo se moordenaars is in ‘n skietgeveg met die polisie doogeskiet.

“Om hierdie soort misdaad te bekamp, is dit belangrik dat die polisie se landelike beveiligingsplan effektief in werking gestel word en polisiekantore met die nodige hulpbronne toegerus word,” het Jan van Niekerk, leier van die VF Plus in die Vrystaat in ‘n mediaverklaring gesê.

Daar word opnuut ‘n ernstige beroep op boere en landelike gemeenskappe gedoen om self ook veiligheidsmeganismes in plek te stel om hul veiligheid te verseker.

“Die VF Plus spreek sy innige meegevoel uit met die slagoffers se familie en geliefdes en wens die Venter-gesin ʼn spoedige herstel toe,” het Van Niekerk afgesluit.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button