SAPD taakspan bekendgestel in Sasolburg
Die SAPD taakspan in die Noord Vrystaat werk nou saam met sekuriteitsmaatskappye en gemeenskapspolisiëringsforums om misdaad te bekamp.
Misdaad het die afgelope twee maande afgeneem in die Fizile Dabe distrik in die Vrystaat. Dit volg nadat ‘n spesiale Taakspan onder Lt. Kol Khaza op die been gebring is.

Op Donderdag, 2 Desember het die areakommissaris, Brigadier Mapulane Mbeloane van die taakspanlede, die Sasolburg Polisiëringsforum, sekuriteitsmaatskappye en Public Eye lede toegespreek.
Dit het deel gevorm van die amptelike bekendstelling van die Taakspan in Vaalpark en Sasolburg.
Brig Mbeloane het die onderskeie organisasies bedank vir hul samewerking en hul aangemoedig om aan te hou om hande te vat en saam teen misdaad te staan veral nou oor die vakansietyd.
Die Sasolburg Gemeenskapspolisiëringsforum voorsitter, Johann Griessel het op sy beurt gesê die mense daarbuite moet die boodskap kry dat hulle daar is en dat hulle sal aanhou om die polisie by te staan om misdaad te beveg.
Na ‘n kort gebed dat alle lede deur die Feesseisoen beskerm sal word, het almal teenwoordig in ‘n konvooi met sirenes en ligte aan die parkade verlaat en deur Vaalpark en Sasolburg se strate gery voordat die groep verdaag het.
