Kollegeparker gekies as Mr Pre-Teen SA Eerste Prins
Wynand Bezuidenhout is 10 jaar oud en droom daarvan om eendag vir die Springbokke uit te draf.
VANDERBIJLPARK.- Wynand Bezuidenhout is 10 jaar oud en het so pas graad 4 by die Laerskool Kollegepark kafgedraf.
Sy hare is netjies gekam vir die onderhoud, maar hy vra benoud sy ma om te help om sy een skoen vas te maak.
“Ek het steke in my been,” beduie hy na waar die sny oor sy knie sigbaar is. “Ek het by die kerk geval. Oor ‘n baksteen. Een baksteen,” en hy sug asof hy daardie baksteen nie gou gaan vergewe nie.

Sy oë verhelder toe ek uitvra oor sy titels. Verlede jaar was hy gekies as die Vaal Pageants se Mr Petite Vaal 2020/1.
Hy het vir die pret deelgeneem, gewen en sy jaar baie geniet. Veral al die gemeenskapsprojekte waarby hy betrokke was.
Hy het onder andere vir Chantelle Swart gehelp om skryfbehoeftes bymekaar te maak vir minderbevoorregte kinders, kos en klere versamel en 14 Santa Shoe Boxes gevul gekry en by Vaalpets uitgehelp.
In Oktober 2021 is hy tot Pageants SA se Mr Pre-Teen Eerste Prins gekroon en het hy ook die titel van besgeklede in aanddrag gekry.
“Miskien skryf ek volgende jaar in vir die Vaal Pageants se Mr Pre-Teen kompetisie,” dink hy hardop. Glimlag dan breed as ek hom uitvra oor sy gunsteling sport.

“Rugby. Ek speel flank, maar as ek groot is wil ek skrumskakel speel soos Faf de Klerk,” vertel hy met groot drome in sy oë.
Hy loer ‘n slag na sy ma en dan vertel hy met trots: “RG Snyman is familie van ons.”
“Kleinneef”, lag sy ma, terwyl Wynand die foto waar hy en sy broer en sussies saam met RG afgeneem is soek.
Naas rugby, speel hy ook hokkie en hy en sy broer, Francois, is ook goed in atletiek.
Beide het in Oktober aan die Super 12 kampioenskappe deelgeneem.
Op die oomblik is hy nog glad nie seker wat hy gaan doen as hy eendag klaar is met skool nie.
Hy wik en weeg nog of hy eerder Mnr Suid-Afrika wil word of vir die Springbokke op nr 9 wil uitdraf. Of dalk sommer al twee … Net die tyd sal leer.
