Local newsNewsNews

Alpha VLU doen alles met oorgawe

Die Alpha VLU tak is gereed om 2022 op 'n hoë noot te begin en sommer ook baie nuwe lede welkom te heet.

SASOLBURG. –  Die Vroue Landbou-unie is al vir 90 jaar bekend vir hul voorslagwerk op vele terreine.

Met die jare saam het hul talente en bbedrywighede al hoe meer uitgebrei en het die organisasie in 2021 meer as 7000 lede in Suid-Afrika en Namibië.

Rina de Klerk, voorsitter van die Alpha tak van die Vrystaatse Vroue Landbou-unie, sê in hul tak word daar met ‘n verskeidenheid talente gewoeker en aan kompetisies deelgeneem.

Ansie Erasmus, Wilna Prinsloo, Miems Erasmus, Tersia Van der Walt, Ria Koekemoer en Rina de Klerk klink ‘n glasie by die Alpha tak se jaareindfunksie en prysuitdeling. Foto: Verskaf

“Ons kom elke tweede Dinsdagoggend om 09:30 bymekaar. Elke bestuurslid kry ‘n kans om in beheer van so ‘n oggend te wees met ‘n spesifieke tema in gedagte. Party dae kry ons eksterne sprekers en demonstreerders in, ander dae leer ons bymekaar,” vertel sy.

Die dames ondersoek en bespreek temas van godsdiens tot by openbare dienste.

Dan is hulle ook doenig met naaldwerk, kookkuns, breiwerk, hekel, borduur, fotografie en selfs skryfwerk.

“Daar is maandelikse kompetisies waarvoor ons kan inskryf. Elkeen besluit self vir watter kompetisie sy wil inskryf. Die beste produkte en handewerk gaan dan deur na die area kompetisie en vandaar na provinsiaal en selfs nasionaal.  

“Hier kuier ons lekker en werk lekker saam. Ons leer ook baie bymekaar,” sê Rina.

Die Alpha tak bestaan reeds van 1963 af. Die lede het vir lank by die Biblioteek in Sasolburg bymekaargekom, maar van die Covid pandemie uitgebreek het, vind hul byeenkomste nou in die saal by die Palms Aftreeoord plaas.  

Die tak het onlangs 2021 op ‘n hoë noot afgesluit met ‘n prysuitdeling waar Rina de Klerk (1ste), Elsa Brits (2de) en Susan Boonzaaier (3de) as algehelwe wenners aangewys is.

Rina kan haar nie die lewe sonder die VLU indink nie.

Sy was maar 18 jaar oud toe sy die eerste keer by die organisasie aangesluit het en het al haar 51 jaar lidmaatskapsertifikaat ontvang.

“Die VLU was my redding na my man, André de Klerk se afsterwe,” sê sy.  

Alpha tak gaan 2022 ook op ‘n drafstap begin.

Die tak bied op 9 Februarie 2022 die Vrystaatse Vroue Landbou-unie se Area 1 konferensie in Sasolburg aan.

Ongeveer 100 gaste van naburige dorpe en streke word verwag.  

Hulle nooi oud en jonk om by hulle aan te sluit en saam te kom kuier, leer en groei. Kontak gerus vir Rina de Klerk  083 307 3066.

Alpha tak se lede het hierdie jaar ook na gesondheidswerkers uitgereik. Foto: verskaf

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button