‘Dief’ betrap- dossier weg
Dit was omtrent 'n gedoente. Intussen is die vrede herstel. Wel, soortvan ...
Sit ma nou die aand ‘n paar stukkies droëwors vir Kleinsus Antjie so mooi in die middel van my bedkassie neer.
Antjie is die jongste van ons drie pekinese. Sy is die een met die mank beentjie wat dink sy is so groot soos ‘n Boerboel en so sterk soos ‘n olifant. Ons help haar nie reg nie …
Alle geval, ek is nog aan’t voete was en Antjie hang in Ma se slaapkamer rond.
Sy weet baie goed dat sodra ek in die kamer is, Ma badkamer toe gaan.
Baba Bessie (die grootste van die drie pekinese, maar ook die rebel sonder rede) gaan lê altyd langs die bad as Ma in die badkamer is.
Is dan wanneer Kleinsus Antjie vra om op my bed getel te word.
Nadat sy dan eers goed op die bed gerol het, sal sy my met die een poot aanpor om dan nou die lekkernye te verskaf.
Sy is nie baie lief vir deel nie. Dus probeer sy om nie aan’t blaffe te raak en die aandag op ons te vestig nie.
Gewoonlik snork Her Royal Naughtyness Heidi (drie maande ouer as Bessie, met ‘n engelgesiggie wat niemand meer glo nie) teen daardie tyd al en Antjie kan dan in vrede vreet.
Die aand gebeur dinge toe geheel anders.
Ek was besig om my voete af te droog, my gedagtes by die volgende dag se onderhoude, toe hoor ek ‘n slag der slagte.
Glas wat breek. Ek verstar. Een voet nog in die lug.
‘n Uiters seldsame posisie vir my op my ouderdom en met twee skroewe in my enkel.
Verskeie scenarios flits tegelyk deur my brein. Van Ma wat dalk haar waterglas omgestamp het tot by inbrekers.
Ek kry my ander voet ook op die grond en rek my treë kamer toe. “Wat was dit Ma?,” roep ek benoud.
Terselfdertyd bereik ek my slaapkamer. Wat ek daar sien, laat my vir ‘n oomblik sprakeloos.
In ‘n plas water, omring met hordes skerp stukke glas, staan Baba Bessie. Oë groot geskrik, maar ook baie in haar skik met haarself.
Sy het dit reggekry om nie net die glas water en lappie van die bedkassie af te trek nie, maar ook Antjie se stukkies droëwors.
Vermoed sy het dit soos ‘n stofsuier opgeslurp, want sy het haar soos blits uit die voete gemaak.
Intussen het Ma en Kleinsus Antjie op die misdaadtoneel verskyn. Ek vrees iemand gaan in die glas trap.
Ek self is kaalvoet en soek eers skoene. Ma het dit op ‘n manier reggekry om Antjie op die bed te tel en die kamerdeur toe te maak sodat die skuldige kan uitbly.
Daar staan ons toe nou watter tyd van die nag en glas optel.
Uiteindelik gaan haal Ma handdoekpapier en daarmee vee-vee sy so oor die vloer dat die fyn stukkies aan die papier kan vassit.
Ek en Antjie sit op die bed. Loer ek oor die rand om te kyk waar is daar nog stukkies glas, dan loer Antjie ook oor die rand om te kyk waarvoor kyk ek.
Niemand is gelukkig in die voorval beseer nie. Bessie het onskuldig gepleit en my met ‘n paar soene omgekoop om die dossier te laat wegraak. Antjie is nie beïndruk nie. Sela

