Xolani wil President Park stukkie vir stukkie regruk
Toe Xolani Mathumbo en sy span ‘n paar jaar gelede ‘n huurkontrak met die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit gesluit het vir die huur van President Park, was dit ‘n hool waar hawelose mense en dwelmgebruikers (“nyopes”) uitgehang het en grypdiewe beursies wat hulle in die middestad geroof het, weggegooi het.
Daar was geen muur om die perseel nie. Mense het hul rommel daar gestrooi.
Die geboue op die perseel se vensters was uitgeslaan en daar was geen elektrisiteit nie.
Die perseel was besaai met spuitnaalde en lemmetjies.
Dinge is nou stadig maar seker besig om te verander met Xolani aan die stuur.
Xolani word deur sy personeel en spelers as ‘n streng man geken, maar ‘n “hands-on” man wat dinge gedoen kry.
Hy het in 2016 sy Ulusha Elite Sport Centre hier by President Park kom vestig.
Die sportsentrum is die tuiste van die Remember Elite Sport Academy, ‘n ontwikkelingsklub vir talentvolle jong sportmanne van die Vaaldriehoek.
Die plan is om die spelers tot so ‘n mate af te rig, te ondersteun en te help sodat hulle eendag in top spanne opgeneem kan word.
Die akademie het reeds heelwat sulke suksesvolle sokkerspelers opgelewer.
Die sportsentrum bied verblyf, kos en afrigting aan spelers.
Deur gebruik te maak van kontakte soos Aaron Mokoena, die kaptein van Suid-Afrika se 2010 wêreldbeker sokkerspan wat hom tans in die Verenigde Koninkryk bevind, wil Xolani help om talentvolle spelers van Suid-Afrika af oorsee te kry.
Daar is ook planne om die olimpiese marathonatleet, Norman Dlomo, te betrek met die afrigting van talentvolle atlete.
Die sportsentrum spog ook nou met ‘n sogenaamde “High Performance Centre” met trapfietse en ander gym-toerusting, sowel as ‘n ouditorium waar spelers wedstryde om ‘n grootskerm kan analiseer. Xolani sê hy was in sy jonger dae ‘n kranige sokkerspeler wat vir Wits sokker gespeel het, maar ‘n besering wat hy op ‘n baie jong ouderdom opgedoen het, het ‘n einde aan sy sportloopbaan gebring.
Hy het toe by sportbestuur betrokke geraak. Xolani het eers in die Vereeniging-sportraad en daarna in die Emfuleni-sportraad gedien.
Hy het in 2016 die fasiliteit deur die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit bekom.
Die meeste van die befondsing vir die opgraderings wat reeds gedoen is, kom van Xolani se familie se logistieke maatskappy, die TSX Groep.
Een van die grootste onkostes was die oprigting van ‘n muur rondom die stadion.
Die aanvanklike palissadeheining wat Xolani om die perseel laat oprig het is sommer gou afgesteel. Hy het toe besluit om ‘n muur uit sandsteen te laat bou.
Die stene is uit Lesotho vervoer en het elk sowat R52 gekos.
Die muur is 1.8km lank. Die sportterrein het onlangs ‘n ontwikkelingsliga aangebied.
Die plan is om ook groot spanne soos Orlando Pirates, Mamelodi Sundowns en Kaizer Chiefs in die nabye toekoms hierheen te lok.
Dit gaan egter nie net oor sokker nie. Xolani wil President Park weer in die multi-sportsentrum omskep wat dit eens was en wil om daardie rede ook rugby, netbal, hokkie en atletiek na die sportgronde terugbring.
“President Park was altyd ‘n rugbyklub en as deel van die restourasieprojek kan ons nie bekostig om rugby as ‘n sport uit te los nie,” vertel Xolani.
Hy meen ook dat rugby die sport in Suid-Afrika is wat die meeste borgskappe aan spelers bied en dat die sport om daardie rede ook baie belangrik is.




