Leessentrum sluit jaar speel-speel af
"Ons stap die pad saam met die kinders en sien hoe hul selfvertroue saam met hul leesvaardighede groei" - Melinda Davids
VANDERBIJLPARK. – ‘n Jaar gelede kon Tsebo Motaung (13) nie die alfabet erken of onthou nie.
Hy was in ‘n privaatskool waar die onderwysers net vir sy bekommerde ouers gesê het dat hy later sal regkom.
Sedert begin 2021 is hy ‘n leerling by die Anker skool en het sy ouers hom ook by die Tina Cowley leessentrum in Vanderbijlpark ingeskryf.
Eienaar, Melinda Davids beskryf Tsebo as haar wonderwerk seuntjie.
Na ‘n jaar van baie harde werk kan hy nou graad 2 stories met begrip lees.
Melinda vertel ook van ‘n seun uit ‘n Engelssprekende ouerhuis wie se ouers hom in ‘n plaaslike Afrikaans medium laerskool ingeskryf het.
Hy kon glad nie Afrikaans verstaan nie. Sy ouers het hom na die leessentrum gebring in 2020 omdat hulle bang was hy gaan nie graad 4 deurkom nie.
“Die outjie het net so hard gewerk. Ons is so trots op hom. Volgende jaar gaan hy graad 6 toe en hy kan Afrikaans met begrip lees, alhoewel hy nog so bietjie selfvertroue kortkom om met ons Afrikaans te praat.”

Dis suksesverhale soos hierdie wat maak dat Melinda en haar sussie, Felicia Sauer, weet hulle het die regte ding gedoen toe hul verlede jaar September, te midde van die Covid-pandemie, hul leessentrum geopen het.
Lees ook: https://www.citizen.co.za/vaalweekblad/73523/twee-susters-maa…-in-kinderlewens/
“Dis ook lekker as die ouers die kinders se rapporte vir ons aanstuur en dankie sê omdat hul kinders nou soveel beter vaar in alle vakke.”
Hierdie jaar het hul 43 leerlinge gehad. Die jongste is 5 jaar oud en die oudste leerling 15.
“Almal het regtig hard gewerk tydens hule middae klasse en daarom het ons die week van 6 Desember opsy gesit vir afsluitingspartytjies.
“Weens Covid-regulasies kon ons nie al die leerlinge op een slag huisves nie, daarom het ons vir elke klas hul eie funksie gehou,” sê Melinda.
Daar is speletjies gespeel, sertifikate uitgedeel en elke leerling het ook ‘n geskenkpakkie ontvang.
Die leessentrum open weer die 10de Januarie 2022. Meer inligting is beskikbaar op die Facebookblad Tina Cowley Reading Centre Vanderbijlpark.


