Local newsNewsNews

Vaal se Lion Jay is ‘n man van vele talente

VEREENIGING. - Suid-Afrikaanse musiekliefhebbers gaan brul van plesier as hulle dié oud-polisiekaptein hoor sing! Sy verhoognaam is Lion Jay, maar Vaaldriehoekers ken hom as Leon Jacobs.

Leon het in Peacehaven grootgeword en was hoofseun van die Laerskool Peacehaven. Hy was ook onderhoofseun van die destydse Hoërskool Vereeniging waar hy matrikuleer het.

Maar tussen al die hoogtepunte was daar ook beproewings. Hy was 15 jaar oud en in graad 10 toe hy weens ‘n sportbesering vir ses maande in traksie in die hospitaal moes deurbring.

Sy bene was dalk lam, maar daar was niks met sy stem verkeerd nie. Niks kon dié jong leeu stuit nie en hy het selfs die Suid-Transvaalse Jeugkoor gehaal.

As student was hy ook betrokke by die Universiteit van Pretoria (TUKS) se studentekoor en hy het natuurlik ook tydens sy polisiedae die manne in blou vermaak.

Leon woon reeds die laaste 28 jaar in Arconpark. Voordat hy bekendheid vir sy sangtalent begin verwerf het, was hy reeds sedert 2007 bekend vir sy kundigheid agter die kamera as lid van die Vereeniging Fotografiese Vereniging. Hy is reeds die afgelope sewe jaar voorsitter van dié klub.

Lion Jay is ook ‘n skitterende fotograaf.
Nog een van Lion Jay se pragtige foto’s.

“Ek was nog altyd lief vir musiek en om te sing. In die 17 jaar diens in die polisie was daar nie kans om dié droom na te streef nie,” vertel Leon.

Selfs toe hy die polisie in 2005 verlaat het, moes hy eers op sy nuwe loopbaan fokus. Hy het eers op die ouderdom van 50 besluit om weer te sing.

So tussendeur sy voltydse pos as opleidingsbestuurder by Dulux het hy twee vollengte albums uitgereik, “maar dit het net bestaan uit bekende covers”.

Maar nou, op die rype ouderdom van 51 en ‘n paar maande, het hy besluit om weer sy aandag aan musiek te wy.
Sy debuutenkelsnit, Dance Forever, is onlangs uitgereik en dit is pure kontemporêre country-plesier.

Dit kan beskryf word as ‘n bietjie Neil Diamond en ‘n bietjie Creedence Clearwater Revival, “maar tog so eg Suid-Afrikaans soos veldskoene en ‘n oujaarsdans by ‘n gewilde vakansieoord,” spog sy platemaatskappy.
Musiekvervaardiger Dennis East is genader om vir hom ‘n liedjie te skryf.

“Ek het besluit om my debuutenkelsnit in Engels uit te reik, want ek wil almal in Suid-Afrika bereik. Ek wil baie graag met die liedjie ‘n huishoudelike naam word,” sê hy.

Die boodskap wat Lion met Dance Forever wil oordra is dat die mens in die oomblik moet leef. “Maak dit spesiaal sodat die herinneringe ‘n leeftyd hou.” Hy het reeds ses van sy eie liedjies neergepen en beplan om dit op ‘n album in 2022 vry te stel.

Lion is ‘n besige man. In sy vrye tyd is hy ‘n fiksheidsinstrukteur en gee spinning klasse by Virgin Active.
Hy en sy vrou van die afgelope 28 jaar, Daleen, neem ook graag aan fietswedrenne en meesters-atletiek deel.

Leon en Daleen.

“Daleen is my grootste ondersteuner. Sy hou my geanker,” sê Lion. “Ons is erg oor ons familie en het ‘n saamgestelde familie van vyf kinders, waarvan vier getroud is. “Ons is ook gelukkig om sewe kleinkinders te hê waarvoor ons baie lief is. Familie saamwees is ons rykdom.”

* Lion Jay se musiekvideo kan op You tube (https://youtu.be/o0iHcnupZqA) gesien word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button