VANDERBIJILPARK. – Julike Bras-Nel sit rustig en gesels. Haar wolf, Fen lê by haar voete.
Julike is ‘n kunstenaar en die bekende kunstenaar, skrywer en dierekommunikeerder, Belinda Bras-Nel se dogter.

Sy het nog altyd ‘n aanvoeling vir kuns gehad en onthou hoe sy ure saam met haar ma kon sit en teken.
“Ek wou nooit kunsklasse neem nie, want as dit by kuns kom hou ek nie daarvan om goed volgens reëls te doen nie. Ek volg my instink,” sê sy.
Haar inspirasie vir haar kunswerke kry sy onder andere uit die natuur en musiek.
“Die Griekse, Engelse en Egiptiese mitologie fassineer my en dit kom duidelik in my kuns na vore,” beduie sy.
Sy werk meeste van die tyd met akriel, maar meng ook ink of pen by. Dit hang af waarvoor sy die dag lus is as sy met ‘n kunswerk begin.

Alhoewel sy al vir baie lank teken en skilder, het sy dit eers net vir haarself gedoen. Sy glo dat “kuns altyd vir jouself eerste moet wees.”
Haar ma het onlangs van Julike se werke saam met haar eie op Facebook begin verkoop.
“Ek doen nou ook kommissies,” vertel Julike, “maar my studies het my die afgelope jaar baie besig gehou.”
Julike het so pas haar graad in Taalpraktyk aan die Noordwes-Universiteit Vanderbijlpark kampus voltooi en hoop om volgende jaar met haar honneursgraad te begin.

Sy het ‘n groot liefde vir tale en droom daarvan om eendag haar eie uitgewery te besit.
“Ek sal graag ‘n groter verskeidenheid van wetenskapsfiksie en fantasie boeke veral in Afrikaans wil uitgee,” glimlag sy.
Solank sy die boeke nie self hoef te skryf nie. Sy verkies om deur haar verfkwas te kommunikeer.
Julike is juis besig om ‘n versameling op te bou vir ‘n uitstalling in die nabye toekoms.
Vir nou gaan sy die universiteitsvakansie gebruik om te verf en te lees.
![]()
![]()

