Oud-Valie skryf saam aan boekreeks vir tieners
Ina Cantoni (73) het na 'n siekbed in 2015 die pen opgeneem en nog nooit weer ophou skryf nie.
Vier karakters se avonture vasgevang in 12 boeke deur agt skrywers! Die unieke reeks boeke in speel af in die Bashoek koshuis.
Skrywer, Ina Cantoni het eerste op die gedagte gekom om ‘n moderne reeks vir tieners uit te bring in Afrikaans.

“Ek het ‘n uitdnodiging gerig aan ander skrywers en uiteindelik het agt van ons 12 boeke geskryf oor dieselfde vier karakters. Ek het die reeks afgeskop met, “Bashoek se stryd teen dwelms”, het Ina in ‘n telefoniese onderhoud gesê.
Elke skrywer kon met die storielyn maak wat hul wil solank die vier hoofkarakters, twee seuns en twee meisies, dieselfde gebly het en die verhaal in en rondom Bashoek afspeel.
Die boeke volg nie op mekaar nie, maar vorm tog ‘n eenheid en kan losstaande of as ‘n reeks gelees word. Ina sê die verskillende skrywers het omtrent hul verbeelding vrye teuels gegee, en tref alles van stormnagte tot vlieënde pierings en spoke die koshuis.
Die reeks word deur Malherbe uitgewers uitgegee.
Ina is ‘n boorling van die Vaaldriehoek en het in Meyerton skoolgegaan en in Rothdene gebly.
Sowat 10 jaar gelede het die gesin Pretoria toe verhuis.
In 2015 het Ina baie siek geword en is haar aktiewe lewensstyl tot stilstand gedwing.
Sy kon egter nie net stil sit nie en het besluit om vir ‘n kortveraal kompetisie in te skryf, wat sy toe ook gewen het.
Net daar het die skrywersgogga haar gebyt en sedertdien het sy nog nooit weer opgehou skryf nie.
Sy is nou 73 jaar oud en het nou al 18 boeke gepubliseer.
“My kop is vol stories. Ek gebruik elke vrye oomblik om te skryf,” lag sy.
Haar grootste bewonderaar is haar kleinkind, Zayden Harmse (5).
“Hy lees en dink stories uit saam met my en dan teken hy prentjies saam met sy oupa,” vertel Ina trots.
Haar man, Herman is ‘n kunstenaar en gee steeds kunsklasse.
Vir meer inligting oor die Bashoek reeks, gaan kyk gerus by https://www.malherbe-uitgewers.co.za/products-list/product/listing/teens of stuur ‘n e-pos na Heleen@malherbe-uitgewers.co.za of inacan49@gmail.com.
![]()
![]()

