Dit is alweer ekke. Ek skryf vir jou ‘n brief, want ek het nie jou WhatsApp nommer nie.
Sal ook maar nie my naam bysit nie, want netnou land dit op bakkiesblad.
Mens kan nou se dae mos niks sê of doen nie, dan beland dit op bakkiesblad.
En iemand is altyd daarteen gekant.
Kyk Vader Krismis, ek weet nou nie hoe sterk is julle op sosiale media in die Noordpool nie, maar hier in die ou RS van A is mense oor bakkiesblad soos honde oor ‘n been.
Altyd aan die baklei. Sleutelbordkrygers noem ek hulle.
Die goed wat hulle kwytraak, is ontstellend lelik en pure politiek en dis iets waaroor ek nie praat nie.
Nou nie hieroor of daaroor nie, maar Vader Krismis, was 2021 nie veronderstel om beter as 2020 te wees nie?
Ons is al amper deur die Griekse alfabet, maar so het die virus nog nie sy ry gekry nie.
En van ons is al ingeënt en alles. Ander stry nog want hul dink die inenting gaan hul laat stemme hoor of teevie deur hul ore opvang of so iets.
Maar dit klink vir my na politiek en dis iets waaroor ek nie praat nie.
Sport was maar skaars hierdie jaar, toe dink die OVK ‘n nuwe speletjie uit. Dit was so ‘n kruising tussen Survivor en Monopoly.
Almal het drie beurte gekry, maar in plaas van om die dice te rol, moes ons ‘n X langs die prentjies maak wat vir ons die mooiste is.
Toe sê hulle “the tribe has spoken” en baie mense dans van blydskap en ander dans van kwaadgeit.
Maar baie het ook net die braaivleisvuur aangesteek, ‘n bier geknak en so in die verte getuur.
Die mense wat die landwye speletjie gewen het, sit nou in rade waar iemand ‘n sweep slaan en net een mag praat, maar almal mag dans en sing.
Ek wou eendag luister, maar jinne, toe hoor ek dis net politiek en dis iets waaroor ek nie praat nie.
Die beste nuus van die jaar was dat Vaalweekblad as k’rant van die jaar aangewys is.
Dit maak amper op vir al die ander skeefloop van die jaar.
Ai Vader Krismis, 2021 het sy blink oomblikke gehad, maar daar was verskriklik baie seer en hartseer ook. Dis nie eers politiek nie, maar ek wil nie daaroor praat nie.
Hoe dit ook al sy, Vader Krismis, onthou die RS van A het ‘n curfew. Niemand op straat van middernag tot 04:00 nie.
Jy sal of jou tye moet aanpas of onder die radar vlieg! Eintlik is jy mos nooit amptelik op straat nie, wel in die lug en op die dakke …
Onthou jou masker. Vlieg veilig en mag my brief in 2022 net goeie nuus bevat.
Jou vriendin vanuit die RS van A Ns.
Hallo Vader Krismis, dis Kleinsus Antjie hier.
Die simpel joernalis het vergeet om in haar brief te skryf wat ek vir Kersfees wil hê. Sy weet ook niks.
Asseblief bring baie droëwors, biltong, beestong en ‘n skaaptjop vir my.
Jy hoef niks vir Baba Bessie en Her Royal Naughtyness Heidi te bring nie.
Net vir my, want ek is die baby. Pekinese-soene, Antjie xxx
