Kinders geniet spesiale Kerpartytjie
Die organiseerder, Petra van Zyl bedank al die helpers en borge wat die dag so ekstra-spesiaal vir die kinders gemaak het.
VANDERBIJLPARK. – Kinders van alle ouderdomme het Saterdag, 18 Desember 2021 by die Centurions MC Vaal se klubgronde in Shakespearestraat bymekaargekom.

Dit was weer tyd vir die jaarlikse Kersboom vir minderbevoorregte kinders gereël deur die niewinsgewende organisasie, We Care For You.
Die koeler weer het die kinders nie afgeskrik nie en hul het steeds die springkasteel en die water glybaan geniet.
DJ Ben en sanger, Frans Grové het die musiek en vermaak verskaf. Daar is gedans en “musical chairs” gespeel.
Daar was ook groot opgewondenheid toe I-Water’s Droppie opgedaag het en bietjie saam met die maats kom lyfskud het.
Frans het ook ‘n paar Country treffers gesing wat bygedra het tot die feestelike atmosfeer.
Terwyl die kinders buite gespeel het, kon die ouers op tafels in die saal kies en keur tussen klere wat as skenkings ontvang is.
Op die verhoog het ‘n vrolike kersboom gestaan met hope geskenke rondom gepak. Kersvader se stoel was ook al daar.

Aan die anderkant van die saal is daar worsbroodjies gesmeer en die geur van gebraaide wors het ook stadig maar seker die lug begin vul.
Laatoggend is almal bederf met kolwyntjies spesiaal gebak deur Marie Coertzen, terwyl Kersvader agterom geglip het en sy plek op die verhoog ingeneem het.
Kersvader en een van sy elwe, het vir elke kind ‘n geskenk gehad met hul naam op.
Party van die jongelinge was maar bietjie versigtig vir die man in die rooi pak en wit baard. Ander was net te bly om ‘n drukkie te kry.
Almal was duidelik beïndruk met die geskenke wat hul gekry het.

Selfs DJ Ben en Frans Grove het vir Kersvader gaan vra vir geskenke en albei het ‘n pakkie lekkergoed vir hul moeite gekry.
Die organiseerder en voorsitter van We Care For You, Petra vanZyl het gesê dit was haar laaste kersboom.
Volgende jaar neem haar dogter Hanli by haar oor. “Ek gaan nou konsentreer op die insameling van kos en klere vir die minderbevoorregtes in ons area,” het sy gesê.
Martie Britz, wie se man, Johann die rol van Kersvader vertolk het, het gesê dit was die eerste keer wat hulle by die betrokke Kersboom betrokke was.
“Ons het heelwat van die geskenke geborg en toegedraai,” het sy gesê. “My dogter se seuntjie is vier so sy het gehelp om speelgoed vir daardie ouderdomsgroep te koop.”
“Ons het baie van hierdie kinders voor ons oë sien groot word omdat ons altyd by Laerskool Vaalrivier se voedingsskema betrokke is. Dis lekker om hulle vandag so gelukkig te sien,” het sy bygevoeg.
Vir meer inligting besoek gerus We Care For You – NPO se Facebookblad.

