Chelsey – dié debutant het hope talent en ‘n omgee hart
Chelsey (13) skitter op die loopplank, verhoog en sportveld en is altyd besig met die een of ander gemeenskapsprojek.
VANDERBIJLPARK. – Chelsey Bezuidenhout is onlangs aangewys as Figures Model Finesse International Vanderbijlpark se Debutant.
Kort daarna het sy dan ook die modelskool by die National Student Model of the Year 2021 in Roodepoort verteenwoordig.

As alles volgens plan verloop sal sy ook as een van haar Debutant pryse die Project AIM Convention in 2023 kan bywoon.
Die samekoms van modelle en internasionale agente vind op die MSC Musica plaas en in die vier dae op see kry die deelnemers afrigting, wenke en die kans om voor die agente op te tree.
Alhoewel Chelsey baie opgewonde is oor wat vir haar in 2023 wag, geniet sy tans ook haar rol as Miss Pre Teen Vaal Public Choice 2021/2.
Sy het die titel in die jaar se Vaal Pageants kompetisie verwerf.
Chelsey is ook betrokke by heelwat gemeenskapsprojekte.

As sy nie klere, kos en kombuisware insamel vir minderbevoorregtes nie, is sy op ‘n missie om kos en komberse vir die honde by Vaalpets bymekaar te maak.
Sy geniet dit ook om self by Vaalpets te draai en bietjie met die honde te speel.
Moeilik om te glo dat die bedrywige jong dame net 13 jaar oud is.
Sy het in 2021 klaargemaak by die Laerskool Kollegepark en sien uit om haar hoërskoolloopbaan by die Hoërskool Driehoek te begin.
Chelsey geniet dit ook om aan sport deel te neem. Sy speel hokkie en netbal en is ook ‘n kranige veldatleet (gewigstoot) en ‘n naelloper (100 m en 150 m).

Hierdie jaar het sy ook weer besonders goed gevaar in die Vaaldriehoek Kunstefees waar sy in die kategorieë teken, spreekkoor, poetry en voorbereide en onvoorbereide lees in Afrikaans deelgeneem het.
Wanneer sy tyd het geniet sy dit om saam met haar ma, Helena Bezuidenhout, in die kombuis te werkskaf. “Ek hou baie van kos maak, maar om muffins te bak is my gunsteling,” vertel sy.
Na skool wil sy graag in een van die mediese rigtings studeer, presies watter een het sy nog nie besluit nie.
Chelsey beveel modelwerk aan vir kinders aangesien dit mens baie selfvertroue gee en jy baie nuwe maats maak.

