Waai vir die rooi trekker!
Die Better Vanderbijlpark Projek is 'n positiewe inisiatief wat werklik 'n verskil in die dorp maak.
Die afgelope paar weke is daar groot bedrywigheid in van Vanderbijlpark se boulevards. Middelmannetjies word gesny, dreine word skoongemaak, randstene word reggemaak, bome gesnoei en slaggate word opgevul.

Pasteur Boulevard lyk al heel spoggerig en in Frikkie Meyer, Livingstone, Curie en Hertz boulevards is daar ook ‘n gewoel en gewerkskaf. Behalwe vir die span werkers, is daar ook ‘n rooi trekker wat oral aandoen om die vuilgoed op te laai en weg te ry.
Die projek is bekend as Better Vanderbijlpark. Die inisiatief is deur Koos & Mike Used Cars begin wat hul swaer Kobus Griesel van Future Garden Services ingetrek het om die projek te bestuur.

Kobus sê dit was nog altyd sy droom om Vanderbijlpark weer mooi te maak. “Dis baie harde werk, maar ons het die afgelope twee en ‘n half weke al baie vermag. Ons kan dit nie doen sonder die finansiële ondersteuning van ondernemings en individue nie. Koos & Mike alleen het by die R500 000 geskenk om die trekker te koop. Vele ander het ook al bygedra, maar ons gaan ongeveer R200 000 per maand benodig om hierdie ‘n volhoubare projek te maak.”
Die kostes vir die petrol alleen beloop by die R2 000 per dag.
Kobus se seun, Marius bestuur die rooi trekker elke dag van vroeg tot moeg. “Baie mense druk toeters en waai vir ons waar ons werk. Daar is selfs die wat vir ons koeldrank bring. Vir hulle sê ons dankie,” het Kobus gesê. Ongelukkig is daar ook mense wat hulle uitskel as hulle verby die trekker of werkers moet ry.

Daar word ‘n beroep op motorbestuurders gedoen om geduldig te wees. Hierdie mense se harde werk is tot voordeel van almal en hulle verdien ‘n dankie en nie uitskel nie.
Alhoewel daar weer die negatiewes is wat sê dat dit die munisipaliteit se werk is en dat hulle reeds vir dienste betaal, moet ons begin besef dat die enigste manier hoe Vanderbijlpark weer leefbaar gemaak kan word, is as almal self inspring en hul deel doen.

Indien individue of besighede by die Better Vanderbijlpark Projek betrokke wil raak, kan hul vir Kobus kontak by 082 452 5256.
Baie dankie aan Perfect Water, The Bold Funerals, Solly’s Skills Driving Academy, Hennie van Solar Installations, Bothas Towing Group, Auto Works Vaal, Auto Alive, Insuritas Makelaars BK, Bold and the Beautiful, DynoWorks, Sasol Iemas, Frans Muller, Smile Gallery Dental Practice, Auto Investments Vanderbijlpark, Ralie Dippenaar van Century 21 Vanderbijlpark, Freight Liner Service Future Garden Services en Koos & Mike Used Cars vir die bydraes alreeds gemaak en vir al die harde werk!

