Vaal se hoogspringkoning op pad na hoër hoogtes
Baie sterkte daar in die vreemde Edric. Die Vaaldriehoek is trots op jou!

Edric Wenhold, Suid-Afrika se o.20 hoogspringkampioen vir 2021 met ‘n persoonlike beste van 2.12m is op pad na die VSA om sy studenteloopbaan te begin.
Die boorling van Vanderbijlpark het ‘n beurs gekry by die hoogsaangeskrewe Samford University in Birmingham, Alabama in die VSA. Hier gaan hy nie net sy atletiekloopbaan voortsit nie, hy gaan ook Ekonomie studeer.

Weens die huidige Covid-maatreëls verplig die VSA alle besoekers vanaf Suid-Afrika om eers twee weke in ‘n ander land te spandeer alvorens hul die VSA inkom.
Edric en sy ma, Annerine Wenhold, het van die geleenheid gebruik gemaak om Mexico te verken en so vir oulaas kwaliteit tyd saam deur te bring. Annerine is al vir jare Edric se afrigter en daar is ‘n besonderse band tussen die twee.
Sy het uit Mexico City laat weet: “Ja, gaan maar swaar wees, want ons is baie na aan mekaar en veral ook omdat ek hom van kleins af afgerig het. Ook opgewonde oor die nuwe groei geleentheid vir hom, en om sy sport en akademie na die volgende vlak te kan neem. Ek glo en vertrou dat die Here ook in die volgende lewensfase vir Edric sal begelei.”
Edric sê hy sien baie uit na die nuwe seisoen in sy lewe. “Ek sien die meeste uit om die sport lewe daar te ervaar, want dit is meer ingeweef in skool lewe, nie so apart soos in SA nie. Ek gaan my familie, vriende en Afrikaans die meeste mis.”
Die Wenholds is van plan om in Mexico te bly tot 31 Desember vanwaar hul dan na Alabama sal vertrek. Edric sluit hom die 3de Januarie by sy nuwe klasse aan en is ook opgewonde oor die nuwe atletiekseisoen wat in Januarie daar begin.

Selfs op vakansie in Mexico oefen hy steeds elke dag en spandeer ure in die gimnasium.
Annerine glo dat Edric goed sal aanpas by Samford aangesien dit ‘n goeie akademiese universiteit is met Christelike beginsels. Dit word ook as ‘n NCAA Dvisie #1 skool geklassifiseer wat beteken die universiteit ding mee op die mees kompeterentste sportklas op univiversiteitsvlak in die VSA.
Annerine beplan om nog tot middel Januarie in die VSA te bly alvorens sy terugkeer SA toe. Kersfees het hulle na ‘n kerkboodskap oor YouTube geluister, met die res van die gesin oor die foon gekuier en geskenke uitgedeel wat al die pad van Suid-Afrika saamgebring is.
