Local newsNewsNews

Sasolburg Fonteine se Koppie vol Kersfees

Sasolburg Fonteine Gemeente het op Kersdag 'n bietjie Kersvreugde gaan versprei.

By Sasolburg Fonteine Gemeente word daar kreatief te werk gegaan. Verlede jaar het hul selfs ‘n radiodrama, Die Krismiswonder, in die konsistorie opgeneem!

Om uit te reik na ander is altyd hoog op hul prioriteitslysie. Hul Koppie vol Kersfees-projek is dan ook iets besonders. Lidmate bring koffiebekers gevul met allerande lekkernye na die kerk toe waar die bekers in geskenksakkies geplaas word.

Oud en jonk het gaan help pakkies uitdeel. Mense kon die pakkies na die diens by die “Kersboom” los. Foto: verskaf

Op Kersdag, net na die diens, vaar hul dan Sasolburg se strate in om vir soveel as moontlik mense wat op 25 Desember moet werk, die geskenkies uit te deel.

Marida Steurer sê hierdie jaar het hulle pakkies vir onder andere die polisie, brandweer, petroljoggies en motorwagte gegee. Selfs twee manne wat op ‘n hoek gewag het vir ‘n moontlike dag se werk, het tot hul groot blydskap elkeen ‘n pakkie ontvang.

Die petroljoggies by Zaaiman motors was baie besig en net die twee kon stilstaan vir ‘n foto. Die res het hulle pakkies gekry terwyl hulle brandstof ingooi. Foto: verskaf

“Dis net om vir hulle te sê ons is dankbaar dat hulle op Kersdag werk. Dis kosbaar om die mense se gesigte te sien as ons die pakkies met ‘n geskrewe boodskap van dankbaarheid vir hul gee.”

Hierdie jaar het hulle ook waslappies, handeroom, tandepasta en seep bymekaargemaak wat hul by Riebeeck Tehuis en Ons Gryse Jeug uitgedeel het. “Eintlik enige iets wat ons in ‘n waslap kon toedraai.”

Marida sê hulle het besef dat die inwoners ook ‘n moeilike twee jaar agter die rug het, met die dat hul nie kon uitgaan weens die pandemie se regulasies nie. Baie van die inwoners is ook alleen oor Kersfees en kry nie besoekers nie.

Daarom het ‘n span ook na die twee ouetehuise uitgereik en vir die inwoners en werkers geskenkies gevat en bietjie gekuier. “Ons wou net elkeen laat besef, hulle is nie alleen nie. Ons dink aan hulle en ons wou elkeen ‘n Geseënde Kersfees toewens.”

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button