Local newsNewsNews

‘n Reis na nêrens en terug

Die Vaalrivier is vol. Die veld is groen. Die mielies groei. Die Nuwejaar het begin.

Dis Nuwejaarsdag. 1 Januarie 2022. Middagete was al vergete toe besluit ons om ‘n draai te gaan ry. Sommer net ry. Oujaar se lawaai nog vlak in die geheue.

Ek stuur my Yankee Mich in die rigting van Sasolburg, maar draai dan regs weg verby die ooghospitaal en die grys kerk.

Mik verby die slaggate. Laurika Rauch, Jak de Priester en Michael Bublé sing in die agtergrond. Ma sê die wolke lyk soos tappeserie wolke, al die verskillende kleure van wit en grys.

Ons hou aan met ry, draai hier, dan daar en uiteindelik by Loch Vaal verby links na waar een van die omgewing se vele brûe oor die Vaalrivier span. Daar staan so ‘n paar motors en motorfietse op die brug geparkeer aan albei kante. Party neem foto’s, ander staar na die rivier asof dit antwoorde sal gee.

Die Vaalrivier is vol en loop sterk. Foto: Gerda Bruinette

Ek bring vir Mich tot stilstand, gryp kamera en masker en gaan beloer die Vaalrivier. Die rivier loop sterk. Bome staan halflyf en meer in die water.

Van die brug kan die Vaal Barrage mooi bespeur word. Water borrel en bruis deur ‘n hele paar van die hekke. (‘n Latere besoek aan randwater.co.za bevestig dat daar op 30 Desember 10 hekke oop was. Die inligting is nog nie weer opgedateer nie.)

Die wind waai ons hare deurmekaar en ‘n vis draai vlak onder die brug.

Ons besluit om ons reis voort te sit. In plaas van terugdraai, draai ek regs Parys toe.

Die Vrystaat slaan groen deur, met pers veldblommetjies langs die pad. Die slaggate is soos ‘n reënvoorspelling, wyd verspreid en so hier en daar een wat ‘n kans op band verloor belowe.

Parys maak altyd onthou-stories by Ma los. Hier het hulle elke Desember kom vakansie hou.

Naby die rivier kon ons ongelukkig nie kom om foto’s te neem nie.

By die gebied waar die ou hangbrug was is daar baie mense met drankbottels in die hand.

Die rivier kon ons net so vlugtig deur die motorruit beloer. Dit spoed kwaad daar verby met skuim om die mond.

Nêrens plek vir stilhou nie. Ek het geen ander keuse as om Mich deur ‘n yslike slaggat te stuur nie.

Ons ry teleurgesteld weg, draai dan maar weer op om oor die ander brug die dorp uit te ry.

Op die brug is daar nie plek vir stilhou nie en ons kan maar net so vinnig kyk hoe die waters dreun en druis.

Vlak anderkant die rivier verwelkom ‘n bord ons in die Noordwes provinsie.

Die pad is stil. Die omgewing mooi. In ‘n mate help dit om van 2021 se ou spinnerakke weg te vee.

Nie lank daarna nie vertel nog ‘n bord ons, ons is terug in Gauteng. Pad is plek-plek mooi en plek-plek sleg, maar darem nie onrybaar nie.

Oral langs die pad kan mens sien die plaasdamme is vol, die beeste is vet en selfs die blou apie wat oor die pad spaander lyk heel goed gevoed en vrolik.

So het ons reis na nêrens en terug toe verloop. Op Nuwejaarsdag. 1 Januarie 2022. Sela.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button