Koffie met die Koning bereik nou dames internasionaal
'n Plaaslike kerkgroep se dames kuier nou aanlyn oor landsgrense heen.
SASOLBURG. – Koffie met die Koning het as ‘n kwartaalikse dameskuier van die Sasolburg Fonteine Gemeente begin. ‘n Lekker kuier met koffie en koek. Elke kuier het ook ‘n geestelike boodskap gehad.
Op 21 Februarie 2020 tydens hul eerste byeenkoms vir daardie jaar, het hul besluit om as deel van hul Harte met Hande projek sanitêre produkte in te samel vir minderbevoorregte meisies.
Marida Steurer sê daar is baie tienermeisies wat gereeld skool mis omdat hulle nie die nodige sanitêre produkte kan bekostig nie en dit vir hul ‘n verleentheid is om skool toe te gaan.
Personeel het ook vertel dat meisies flou val by die skool, omdat hulle, hul kosgeld gebruik om sanitêreprodukte te koop.

Die Harte met Hande projek het goed afgeskop, maar min het die Koffie met die Koniing lede geweet dit sou hul laaste byeenkoms vir ‘n baie lang tyd wees.
‘n Maand later het die Covid-pandemies getref en is alle byeenkomste gestaak.
Marida sê hulle het hulle tot aanlynkanale gewend om Koffie met die Koning te kan voortsit, van YouTube boodskappe tot by Facebook en WhatsApp Bybelstudiegroepe is ingespan.
In die proses het hulle baie meer dames bereik as voorheen.
“Dames het van die VSA, Australië, Skotland en Dubai ingeskakel om na ons boodskappe te luister en selfs Suid-Afrikaners van sover as George en Kimberley het deel geword van die groepe,” vertel Marida.
Dit was ook lekker dat meer plaaslike dames kon inskakel. “Die dames op omliggende plase kon byvoorbeeld nie altyd uitry om ons byeenkomste by te woon nie, maar hulle is nou aanlyn deel van Koffie met die Koning,” het sy opgewonde laat weet.
In die proses het hul nie van hul Harte met Hande projek vergeet nie en einde 2021 het hul genoeg sanitêreprodukte gehad om te kon gaan uitdeel by ‘n skool. Marida sê: “Hul stories het ons aangeraak. Ons is dankbaar dat ons ‘n bydrae kon lewer.”
Meer inligting is beskikbaar op die Facebookblad @KoffiemetdieKoning.
