VEREENIGING. – ‘n Vragmotor het op 4 Januarie omstreeks 20:00 blykbaar ‘n slaggat getref. Die bestuurder het beheer van die vragmotor verloor, waarna die voertuig deur die reëlings gebars en na benede getuimel het.
Die ongeluk het op die R59 brug tussen Sasolburg en Vereeniging naby Spidervalley plaasgevind.

Die vragmotor het kajuit eerste geval en het aan die brand geslaan. Nooddienste was op die toneel vir langer as vier ure.
Die brand is uiteindelik onder beheer gebring, maar die bestuurder kon nie opgespoor word nie. Die vragmotor se vrag appels het wyd versprei gelê.
Die opruiming van die ongelukstoneel is vanoggend (5 Januarie 2022) voortgesit.
Die bestuurder se liggaam is erg verbrand in die verwronge kajuit gevind. Die liggaam moes met spesiale toerusting verwyder word.
Intussen is die slaggat blykbaar vanoggend opgevul. Omstanders het begin om die appels weg te dra.
