Miss Grand SA sê dankie en groet vir eers
Jeané van Dam gaan haar studies in Australië voltooi.
VANDERBIJLPARK. – Miss Grand South Africa Jeané van Dam is vir ‘n wyle terug in haar tuisdorp na ‘n welverdiende vakansie in Hartenbos. “Dit gaan goed. Ek is uitgerus en sien uit na die jaar wat voorlê,” het sy in ‘n telefoniese onderhoud gesê.
Jeané het voor haar vakansie in die Kaap, terug gekeer van Thailand waar sy aan die Miss Grand International kompetisie deelgeneem het.
Daar het sy baie harte verower en is uiteindelik as vierde prinses gekroon.

Oor haar ondervinding daar sê sy: “Ek het my verwagtinge gehad van hoe dit sal wees, maar al my verwagting is oortref. Thailand se mense het uit hul pad gegaan om my te laat welkom voel. Hulle het geskenkies aangedra en boodskappe gestuur. Ek was so dankbaar vir al hul ondersteuning.”
Die kompetisie self beskryf sy as baie harde werk., “Ons het baie geoefen en min geslaap. Dit was ‘n ongelooflike ervaring.
“Ek is ook baie dankbaar vir al die ondersteuning en boodskappe wat ek vanuit Suid-Afrika en spesifiek my tuisdorp gekry het. Dit het ‘n groot impak gehad om te weet julle dink aan my. Baie dankie!”
Jeané vertrek volgende week Australië toe om haar studies daar te gaan voortsit by die Bond University.
Sy het in 2020 daar begin met haar grade in Handel en Regte, maar nadat die Covid-pandemie uitgebreek het, was sy genoodsaak om na Suid-Afrika terug te keer.
Sedertdien was al hul klasse aanlyn. Dit was vir haar ‘n groot uitdaging, veral weens die groot tydsverskil tussen Suid-Afrika en Australië.
“Ek sien uit om weer normaal te kan gaan klasdraf en ook om aandag aan my modelagentskap in Australië te kan gee,” het sy gesê.
Sy beplan om in April huis toe te kom vir die kroning van die nuwe Miss Grand South Africa.
“Hierdie jaar fokus ek op my studies, maar volgende jaar wil ek inskryf vir Mej. Suid-Afrika 2023,” het sy beslis verklaar.
