Taxi bars deur heining, land op dak
’n 36-Jarige taxi-bestuurder het matige tot ernstige beserings opgedoen toe hy beheer oor sy voertuig om ’n draai verloor het, deur ’n heining geploeg het, en toe ook met ’n boom en geparkeerde voertuig gebots het.
VANDERBIJLPARK. – Die ongeluk het Saterdagoggend (8 Januarie 2022) in die Faraday Boulevard-omgewing van Vanderbijlpark gebeur.
Volgens Ross Campbell, ER24-woordvoerder, het ’n nooddiensbeampte wat oorkant die straat van die ongelukstoneel woon die harde slag gehoor het ondersoek gaan instel.
Volgens Campbell was die nooddiensbeampte ten tye van die ongeluk van diens af en besig om vir werk reg te maak.
Met tandeborsel in die hand het sy om 05:30 die oggend by die ongelukstoneel aangekom.
“Die voertuig het op sy dak op die sypaadjie te lande gekom en het teen ’n boom gerus.
“Die bestuurder het in ’n ongemaklike posisie in die voertuig vasgesit,” vertel Campbell.
Volgens hom kon die nooddiensbeampte en helpers daarin slaag om die beseerde pasiënt uit die voertuig te red waar die persoon behandeling ontvang het.
Die beseerde persoon is daarna na ’n hospitaal geneem vir verdere behandeling.
Die polisie en brandweer was ook op die toneel.



