Vermeende mensehandelaars wil borgaansoeke bring
Twee mans wat van mensehandel aangekla word sal na verwagting Donderdag (13 Januarie 2022) borgaansoeke in die Vanderbijlpark-landdroshof bring.

VANDERBIJLPARK. – Die twee mans is in hegtenis geneem nadat drie vroue op Donderdag 30 Desember 2021 deur lede van direktoraat vir prioriteit misdaadondersoeke (Valke) uit ‘n bordeel in Benoni aan die Oos-Rand gered is.
Een van die mans is na bewering ’n buitelander. Laasgenoemde is na bewering die eienaar van die bordeel.
Die slagoffers is glo 18, 29 en 33.
Lt. kol. Philani Nkwalase, ‘n woordvoerder vir die Valke, sê die 18-jarige is onder valse voorwendsels na die bordeel in Benoni gelok deur ’n persoon wat sy glo op die internet ontmoet, toe sy by familielede in Vanderbijlpark gekuier het.
Sy het op 26 Desember vermis geraak en het nie haar selfoon geantwoord nie.
Volgens Nkwalase het die slagoffer later haar nefie gekontak en hom meegedeel dat haar selfoon van haar weggeneem is. Sy het ook beweer dat sy teen haar wil aangehou word en gedwing is om seksueel uitgebuit te word.
Die Valke se ondersoekspan vir ernstige misdade in Vaalrand het saam met die Sedibeng-honde-eenheid en die Vanderbijlpark-taakspan na die gastehuis gegaan en die 18-jarige opgespoor.
Die Valke het tydens die besoek ook twee ander slagoffer (van Sebokeng en KwaZulu-Natal gered.
Die beskuldigdes is onderskeidelik 25 en 39.
