Babelse verwarring ná kansellasie van fietswedren met die selfde naam
Daar heers tans groot verwarring onder fietsryers van die Vaaldriehoek nadat een van twee fietswedrenne met dieselfde naam gekanselleer is vir 2022.
MIDVAAL. – Vaalweekblad verneem dat ‘n padfietswedren wat in Januarie in Midvaal plaasvind gekanselleer is, maar dat die bergfietsren wat ook in Januarie in Midvaal plaasvind nog volstoom voortgaan.
Albei fietswedrenne bevat die woord “Fast One” in hul name, hoewel die een ‘n padfietswedren is en die ander een ‘n bergfietswedren is.
*Die “The FAST ONE Cycle Challenge”, ‘n padfiets-wedren wat gewoonlik deur die Rotariërs van Riverside aangebied word as ‘n fondsinameling vir gemeenskapsprojekte en by die Midvaal-renbaan begin, is laat verlede jaar gekanselleer. Die organiseerders het glo die besluit geneem om vanjaar se wedren te kanselleer weens uitdagings wat deur die koronavirus gepaard gaan.
*Die “Summer Fast One MTB 2022″, ‘n bergfietsren wat deur Spektrum Sport Events aangebied word en by Randwater se gronde suid van Johannesburg afskop, gaan egter volstoom voort op 23 Januarie 2022. Elize Puth van Spektrum Sports Events het aan Vaalweekblad verduidelik: “Daar is twee wedrenne wat sou plaasvind. Die een is ‘n padfietswedren en die ander een ‘n bergfietswedren. Die bergfietswedren gaan wel nog voort (hoewel die padfietswedren gekanselleer is vir 2022),” sê sy.
Volgens Puth is die organiseerders (Spektrum Sports Events) oorval met oproepe om te hoor of die bergfietswedren gekanselleer is.
Puth het benadruk dat die bergfietswedren níé gekanselleer nie en wel voort sal gaan.
