Local newsNewsNews

Vanderbijlparkers het nou genoeg gehad!

"Saam as 1 stem kan ons 'n verskil maak." - Louis Da Silva

VANDERBIJLPARK. – Op Vrydag, 14 Januarie 2022 om 18:00 het inwoners van Vanderbijlpark in die Portugese Klub se saal bymekaargekom vir ‘n vergadering belê deur Louis Da Silva.

Die pawiljoene aan beide kante van die saal was volgepak en heelwat mense het ook gestaan.

Almal het twee dinge in gemeen gehad. Eerstens woon hulle in Vanderbijlpark en tweedens is ieder en elk verby keelvol en moedeloos met die toestand van die eens trotse dorp.

Nadat daar gesukkel is met die klank, want die elektrisiteit was (alweer/nog steeds) meer af as aan, moes ‘n kragopwekker ingespan word.

Louis Da Silva spreek die mense toe oor wat gedoen gaan word oor die swak dienslewering in die dorp. Foto: Gerda Bruinette

Louis het in sy toespraak gesê, hy is nie ‘n politikus of spreker nie en dat die byeenkoms nie polities van aard is nie. “Ek is net ‘n gewone ou, maar iets moet gedoen word,” het hy onder applous gesê.

Hy het organisasies soos ERPA en Afriforum bedank wat hom deur die loop van die week gekontak het en het gesê hy wil help dat meer mense betrokke raak en meer weet wat hierdie organisasies doen.

“Hierdie gaan nie net oor die kragonderbrekings nie, dit gaan oor al die probleme waarmee ons daagliks sukkel van die slaggate tot by die verstopte dreine. Dis tyd dat die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit tot verantwoording geroep word en verantwoordelik gehou word vir die dienste wat hulle veronderstel is om te lewer,” het hy gesê.

Louis voel dat almal moet saamstaan om te verseker dat die munisipaliteit begin aandag gee.

Hy het daarom gevra dat almal teenwoordig vir hom ‘n e-pos moet stuur met ‘n maksimum van vyf kwessies en twee moontlike oplossings.

Hierdie inligting moet hom teen 19 Januarie 2022 bereik vanwaar dit verwerk sal word en ‘n vergadering met die burgemeester belê sal word.

Sy e-pos adres is louisds@lantic.net.

Hy het ook genoem dat Neil de Beer van die United Independent Movement (UIM) aangedui het dat hy beskikbaar is om te help.

Daar is ook reeds advokate aan boord.

‘n Webtuiste word in die vooruitsig gestel waar daar gereeld peilings sal wees om te bepaal hoe die gemeenskap oor ‘n saak voel.

“As ons nie met enige so ‘n peiling, 51% van die mense se goedkeuring het nie, dan gaan ons nie voort nie. Alles wat ons gaan aanpak sal met die meerderheidstem gedoen word,” het Louis verklaar.

Sophia het saam met haar eienaar, Prof. Johann Tempelhoff ook die byeenkoms bygewoon. Foto: Gerda Bruinette

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button