Local newsNewsNews

Dié tema-koekies is kunswerke in die kleine

Elke koekie is 'n kunswerk in die kleine wat met 'n geduldige hand individueel versier word.

VANDERBIJLPARK. – Liz-Mari Laubscher het nooit gedink sy sal eendag koekies bak en versier nie. Tot 2020 het sy haar maar skaars gehou in die kombuis en meeste van die tyd kosmaak aan manlief oorgelaat.

Dit was nou tot die dag in Augustus 2020 wat haar suster, Liana Schonborn haar laat weet het sy moet kom help, daar is 400 koekies wat gebak moet word.

Liana se dogter, Dané (op daardie stadium 15) het so deur die loop van 2020 begin om outydse soetkoekies te bak en te versier.

Algou het sy vir vriende en familie begin koekies bak en dit was nie lank nie toe kry sy die groot bestelling.

Fyn detail maak van elke koekie ‘n individuele stukkie kuns.

Liz-Mari het gedoen wat enige goeie tannie doen, sy het gaan help en in die proses baie vinnig geleer hoe om dit te doen.

Is ook net daar waar sy die passie vir hierdie kuns aangesteek het en terug by die huis het sy begin YouTube videos kyk om te sien hoe sy haar tegniek kan verbeter.

“Die koekies word gemaak van die tipiese outydse soetkoekie resep, maar die versiersel moet baie spesifiek aangemaak word. Dit vat ook oefening om die koekies te versier,” vertel sy.

Hierdie koekies het Liz-Mari vir iemand se swembad partytjie gebak.

Mettertyd het haar vriende in die Vaaldriehoek haar begin vra om vir hul tema-koekies te maak vir spesiale geleenthede.

“Mense stuur vir my ‘n prentjie van wat hul min of meer wil hê, dan gaan kyk ek hoe ek dit vir hul kan doen.”

So het sy nou al ‘n verskeidenheid temas aangepak van ‘n baba tee en Kersfeeskoekies tot by prettige koekies vir ‘n kleuterskool en sterkte vir die eksamen pakkies.

Daar was ook koekies vir spesiale geleenthede van ‘n 40ste verjaarsdag tot by ‘n 90ste verjaardag wat gevier is.

Die koekies neem alle vorms en groottes aan en kan in ‘n verskeidenheid kleure versier word.

Liz-Mari sê die tema-koekies trek baie aandag en mense gee dit ook vir ander as geskenke.

Die aanvraag na haar koekies het nou so groot geword dat sy ‘n Facebookblad gestig het. Gaan loer gerus by Lucie’s Cookies vir meer besonderhede.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button