Vanderbijlpark waar is jul klagtes en voorstelle?
Stuur vandag nog 'n e-pos met 'n maksimum van vyf probleme en 'n minimum van twee oplossingsvoorstelle aan louisds@lantic.net
VANDERBIJLPARK. – Na die goeie opkoms deur inwoners van Vanderbijlpark by die vergadering oor swak dienslwering op Vrydag, 14 Januarie 2022, lyk dit asof die meeste inwoners traag is om e-posse te stuur om die bal aan die rol te sit.
Tydens die byeenkoms het die sameroeper, Louis Da Silva gevra dat inwoners vir hom e-posse sal stuur met ‘n maksimum van vyf uitdagings, probleme of klagtes wat hul het rondom dienslewering in die dorp.
Dit sluit nou in alles van verkeersligte wat nie werk nie tot by die kragonderbrekings en die rioolwater wat plek-plek by die strate afstroom.
Hy het ook gevra dat elkeen ten minste twee voorstelle oor moontlike oplossings moet byvoeg. Mense moet ook aandui of hul bereid is om van die bestaande WhatsApp groepe oor te skakel na Telegram. Sy e-pos adres is louisds@lantic.net.
Louis het vanoggend (Maandag, 17 Januarie 2022) weer ‘n beroep op inwoners gedoen om die e-posse vir hom voor of op Woensdag, 19 Januarie 2022 te stuur.
Daar word beoog om al die inligting tot een dokument te verwerk wat onder andere aan die burgemeester van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit voorgelê sal word.
Tydens Vrydagaand se byeenkoms het Louis gesê: “Dis tyd dat die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit tot verantwoording geroep word en verantwoordelik gehou word vir die dienste wat hulle veronderstel is om te lewer”.
