Local newsNewsNews

Erfenisskatte van adv. JG Strijdom is nou in Parys

Erfenisskatte vanuit en van adv. JG Strijdom, voormalige eerste minister van die Unie van Suid-Afrika, sal eersdaags in die Vrystaat te sien wees.

PARYS. – Personeel van die Erfenisstigting (ES) by die Voortrekkermonument in Pretoria het in Augustus verlede jaar Strijdom se huis in Modimolle (voorheen Nylstroom) gaan oppak.

Dié stigting het ’n bruikleenooreenkoms met die Limpopo provinsiale departement van sport, kuns en kultuur, asook die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit aangegaan.

Sedertdien is die ES amptelik die bewaarders van die Strijdomhuis se skatte.

Okkie Jooste, lid van die FAK-Vaaldriehoek-Kultuurnetwerk en die Suid-Afrikaanse Weermagvereniging se Kiewiet-tak in Vereeniging, Jan-Danie Malan, projekorganiseerder van FAK-Kultuurnetwerke in die Vrystaat, en Jaco Cilliers, bestuurder van Erfenisbewaring by die Erfenisstigting, sit hande bymekaar om die borsbeeld van adv. JG Strijdom by sy huis in Modimolle na die Vrystaat te Vervoer. Foto: Verskaf

Personeel van die ES en die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het die afgelope naweek (Saterdag) hande gevat om die laaste groter items, waaronder ’n perdekar, AGA-koolstoof en ’n borsbeeld van Strijdom, wat nog oorgebly het by die Strijdomhuis te gaan verwyder en dit na die FAK se Udolpho Rivierplaas naby Parys in die Vrystaat geneem.

Dié keer het lede van die Suid-Afrikaanse Weermagvereniging (SAWV) se Kiewiet-tak in Vereeniging, Gauteng, wat ook op die FAK-Vaaldriehoek-Kultuurnetwerk dien, kom handbysit en gehelp om die nodige vervoer en verdere mannekrag te verskaf.

Jaco Cilliers, bestuurder van Erfenisbewaring by die ES, het die lede FAK-Vaaldriehoek-Kultuurnetwerk en SAWV vir hulle “reuse bydrae” bedank.

Om ’n historiese perdekar te verskuif is geen maklike taak nie. Lede van die FAK, Erfenisstigting en Suid-Afrikaanse Weermagvereniging (SAWV) het egter korte mette van dié reuse taak gemaak.
Okkie Jooste, lid van die FAK-Vaaldriehoek-Kultuurnetwerk en die SAWV se Kiewiet-tak staan binne in die vragmotor, terwyl nog lede van die FAK, waaronder Jaco van Rensburg, Barry Müller, projekorganiseerder van FAK-Kultuurnetwerke in Gauteng, Kallie van der Merwe en Thelma du Toit (opsigters van die Strijdomhuis) die perdekar wat aan adv. JG Strijdom behoort het, help om dít in die vragmotor te laai. Foto: Verskaf

“Hulle het ons regtigwaar baie gehelp. Dit is vir ons (ES) ongelooflik belangrik om hande te vat met sulke organisasies, want alleen kan ons nie die stryd wen nie.”

Jan-Danie Malan, projekorganiseerder van FAK-Kultuurnetwerke in die Vrystaat, sê die erfenisskatte van Strijdom gaan eersdaags in die Ou Plaashuis by die Udolpho Rivierplaas uitgestal word.

“JG Strijdom het die monumentekomitee, wat later die monumentekommissie geword het, op die been gebring. Dit is ’n baie groot voorreg om nou hierdie bewaringsdiens aan hierdie man (Strijdom) 70 jaar later terug te bewys.”

Vele hande maak ligte werk. Personeel van die FAK, ES en SAWV help om die borsbeeld van adv. JG Strijdom in die vragmotor te laai. Hulle is: Jaco van Rensburg, Jan-Danie Malan (projekorganiseerder van die FAK-Kultuurnetwerke in die Vrystaat), Mark Walden en Okkie Jooste (albei lede van die FAK-Vaaldriehoek-Kultuurnetwerk en SAWV se Kiewiet-tak) en Joel Molebala (vragmotorbestuurder) . Agter in die vragmotor is Sheperd Chingwara, ’n persoonlid van die Voortrekkermonument. Foto: Verskaf

Barry Müller, projekorganiseerder van FAK-Kultuurnetwerke in Gauteng, sê: “Hoekom ’n gebeurtenis soos hierdie belangrik is, bo en behalwe die behoud en beskerming van ons erfenisskatte, is om ook vir ons mede-Afrikaners te wys hoe verskeie mense vanuit verskeie organisasies soos een gemeenskap kan saamkom om ’n gemene doel te bereik.”

Adv. JG Strijdom was die vyfde eerste minister van die Unie van Suid-Afrika van 1954 tot sy dood in 1958.
Sy familiewoning in Modimolle het hy aanvanklik gebruik om sy prokureursfirma te bedryf.

Strijdom, wat bekend gestaan het as die Leeu van die Noorde, se huis is in 1976 as museum verklaar.

Die span wat die verskuiwing van adv. JG Strijdom se erfenisskatte van sy huis in Modimolle na die Vrystaat moontlik gemaak het, van links: Mark Walden, Jan-Danie Malan (projekorganiseerder van die FAK-Kultuurnetwerke in die Vrystaat), Okkie Jooste, Jaco Cilliers (bestuurder van Erfenisbewaring by die Erfenisstigting), Frans Harding en Jaco van Rensburg. Foto: Verskaf

Die afgelope paar jaar het die museum agteruitgegaan, in so ’n mate dat termiete die dakbalke begin opvreet het. Die meeste van die plafon is ook reeds opgevreet.

Dit was net nie meer veilig om die erfenisskatte daar te hou nie. Die owerhede en die ES het verlede jaar besluit om hande te vat om die kosbare geskiedenis vir die volgende geslag te bewaar.

Borsbeeld van adv. JG Strijdom nou veilig in die Vrystaat. Van links is lede van die FAK se Vaaldriehoek-Kultuurnetwerk: Okkie Jooste, Mark Walden, Frans Harding, Gys Ströh. Heel regs is Petrus du Plessis, bestuurder van die FAK se Udolpho Rivierplaas en voor is Jan-Danie Malan, projekorganiseerder van FAK-Kultuurnetwerke in die Vrystaat. Foto: Verskaf

Verskeie van die artefakte, soos skilderye, portrette, Strijdom se tikmasjien, familiebybel en selfs Paul Kruger se pyp, is intussen deur die ES nagegaan en sal gerestoureer word indien nodig.

Van die artefakte sal ook binnekort by die Erfenisstigting by die Voortrekkermonument uitgestal word.

Die perdekar wat aan adv. JG Strijdom sal eersdaags vir die publiek te sien wees by die FAK se Udolpho Rivier in Parys, Vrystaat. Die manne wat gehelp het om dié perdekar te vervoer, is van links: Okkie Jooste, Mark Walkden, Frans Harding, Jan-Danie Malan, Petrus du Plessis en Gys Stöh. Foto: Verskaf

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button