Vaaldam – Daar is weer vyf sluise oop
Daar is weer vyf kruinsluise oop by die Vaaldam. Watervlakke bly styg.
DENEYSVILLE. – Twee weke gelede kon Marina Smit van Hartebeesfontein net buite Deneysville ‘n sug van verligting slaag nadat vyf kruinsluise by die Vaaldam oopgemaak is.
Die Vaaldam se water het op daardie stadium reeds die hele erf oorspoel en in die huis ingevloei.

Verlede week is daar egter drie van die kruinsluise weer toegemaak nadat die dam se vlakke tot ‘n meer beheerbare 102% gedaal het.
Die reën in die groter opvangsgebied het egter nie opgehou nie en teen 17 Januarie 2022 was die dam weer 108.5% vol.
Twee kruinsluise is gister (17 Januarie) weer oopgetrek en vanoggend om 11:00 is nog een oopgemaak. Daar is nou weer vyf kruinsluise oop.
Die kruinsluise is oopgetrek om die dam se infrastruktuur te beskerm.

Marina het op 18 Januarie 2022 laat weet dat die water die afgelope paar dae weer aansienlik gestyg het en dat hul erf en huis weer oorstroom is ten spyte van die sandsakke wat gepak is.
“Ons weet nie meer wat om te doen nie”, het sy gesê.
Hulle bly reeds vir die afgelope 8 jaar in die huis en dis die eerste jaar wat die water tot in die huis inloop. In die verlede kon hulle dit by die voorstoep keer.
Die Departement van Water en Sanitasie se woordvoerder, Sputnik Ratau, het gesê hulle monitor die situasie.
Hulle het ook inwoners gewaarsku om betyds te reageer op enige boodskappe van die munisipaliteite, nooddienste en rampbestuur sou ontruimings moet plaasvind.
