News

Gun Oupa en Ouma die genot om kleingoed te bederf

Hierdie kleingoed draai jou om hul pinkie en jy gee al jou aandag en liefde sonder om moeg te word!

Jannie Kok skryf:

Vandag moet ek verskoning vra vir al die oupas en oumas van 30 plus jare terug. Ons generasie het in die strate en veldjies gespeel. Die enigste reël was as jou ma in die driveway staan en skree: “Janneman, jy moet kom bad”, dan vra jy nie vrae nie, jy paleka huis toe en so ook die ander, want jy sien, die buurt se ma’s wat boesemvriendinne.

Dan bad jy, eet, hou huisgodsdiens en bed toe… dan is dit nog nie eers behoorlik donker nie (vir ander outjies dalk makliker, want ek was ‘n laatlam). Skaars uit ons tienerjare… opgeroep vir die weermag… gaan fight die terroriste… almal in die familie is trots, jy nog meer, maar toe begin die reëls. Ek gaan nie eers probeer om dit hier te verduidelik nie. Jy besef binne ‘n paar dae: Word groot, al is jy net 18 jaar oud!

Kom daaruit, trou, kry kinders… en hier begin die storie. Oupa en Ouma bederf en ek worry. Wat gaan van my kinders word as dit so aangaan? Ek baklei, ek raak streng, ek slat my seun uit ouma se sitkamer tot in die kar (sorry, my bul).

Die kinders mag nie saam met Ouma en Oupa op vakansie gaan nie… hulle is te outyds en o wee, kar bestuur op die langpad… dit is ons grootste worry! Onthou, die weermag het ons bietjie harder gemaak as wat ons as mens moes wees. Jy is in beheer, en daar is net ‘n paar mense wat jy vertrou, en nie noodwendig die naastes op daardie stadium van jou lewe nie… nogal hartseer as ek daaraan dink.

Vandag sit ek en vroulief met drie van die klein woelwaters en ons as oupa en ouma kan nie die waarde daarvan beskryf nie. Ek kry nie my kop daarom gedraai nie. Ek kyk na my vroutjie en wonder: Waar kry jy die krag, my lief? Hierdie kleingoed draai jou om hul pinkie en jy gee al jou aandag en liefde sonder om moeg te word! Jy is ‘n wonderwerk, net soos hulle! My geld, my huis, my hart is julle s’n en my liefde vir julle sal nooit opdroog nie.

Vandag se grootste bekommernis in my lewe: Ons het toegelaat dat die reëls so verander dat ons kleingoed uit die strate moet bly. Ek worry! Seënwense vir elke ouma en oupa.

***********************************************************************************

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button