Local newsNews

Vaal skrywer met toekenning beloon

Felicia Snyman-du Toit is onlangs met 'n nasionale toekenning beloon vir haar skryfwerk.

VANDERBIJLPARK – Felicia Snyman-du Toit is bekend as ‘n roman- en kinderboekskrywer. Onlangs het sy die 2026 Imbali-toekenning vir Afrikaans gewen.

Dis die Romance Writers Organisation of South Africa (ROSA) se mees gesogte jaarlikse literêre eer. Die toekenning was vir haar roman, Liefde met ’n doelskop.

Liefde met ’n doelskop volg Alexa de Vos, ’n biokinetikus en rugbyafrigter, wat as die dogter en suster van oud-Springbokke met rugby in haar bloed grootgeword het.

Wanneer sy as agterlynafrigter van ’n privaat hoërskool se eerstespan aangestel word, loop sy haar vas teen Bryan Becker, een van die spelers se pa’s, wat glad nie glo ’n vrou behoort sy seun af te rig nie.

Die idee kom uit skolerugby, waar haar suster en swaer as onderwysers baie tyd langs die veld deurbring. “Ons leef in ’n land waar mense soms te mal is oor hulle rugby,” sê sy.

“Ek hou daarvan om stereotipering uit te daag, veral wanneer dit by vrouens in sekere beroepe kom. ’n Heldin as ’n rugbyafrigter, wat boonop die held se seun moet afrig — hoeveel meer drama, passie en liefdesvuurwerke kan daar wees!”

Felicia se eerste Romanza is in 2016 gepubliseer en sedertdien het sy al 16 romans die lig laat sien. Dan is daar natuurlik ook haar kinderboekreeks waarvan die eerste een in 2023 verskyn het.

Die omslag van die boek wat Felicia die Imbaliprys besorg het. Foto verskaf: Francine Beaton

Haar volgende boek is reeds goedgekeur en behoort volgende jaar op die rakke te wees. Felicia sê dit was ‘n ongelooflike verrassing en voorreg om die toekenning te kry.

“Die oomblik wat ek die nuus ontvang het, het ek so bewoë geraak. Dit is ’n eer om tussen die groot name van romantiese fiksie erkenning te ontvang vir skryfwerk wat ’n bietjie van myself bevat.

“Soms, tussen werk, die lewe en die rolle wat jy moet vertolk, verloor mens moed en geloof in jouself — hierdie laat my voel asof my vlerke van drome weer kan vlieg en sweef na hoër hoogtes.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button