Titanic gooi anker in Meyerton
’n Reusemodel van die wêreldberoemde skip trek sedert 1 September aandag by Riverstone Mall.
MEYERTON. – ’n Titanic-entoesias se buitengewone skepping van 8,7 m lank en sowat 500 kg het in Meyerton anker gegooi.
Die indrukwekkende model, genaamd die Tintanic, is deur die 41-jarige Gino Hart ontwerp en oor vyf jaar gebou.

Die Tintanic is van 1 tot 30 September by Riverstone Mall te sien as deel van ’n uitstalling wat ook historiese inligtingspanele, artefakte en fotogeleenthede insluit.
Hart, wat in Oranjeville en Villiers grootgeword het, se belangstelling in die Titanic het begin nadat hy James Cameron se bekende rolprent in 1997 gesien het.
Hy het hom later in die geskiedenis van die werklike passasierskip verdiep.

Omdat daar min model- en stokperdjiewinkels was waar hy grootgeword het, het Hart sy eie Titanicmodelle begin bou.
“Ek het hulle gebou en dan in die Vaaldam of swembaddens laat sink, of hulle opgebreek om plek te maak vir beter kartonweergawes,” vertel hy.

Die Tintanic is sy 19de, grootste en volgens hom laaste weergawe van die skip.
Die model is sowat 90 cm breed en twee meter hoog. Hoewel hy reeds vyf jaar daaraan bou, meen Hart dat nog ongeveer tien jaar se werk voorlê.
Die volgende fase behels die miniatuurversiering van sowat 4 000 binneruimtes oor nege dekvlakke.
Anders as ’n presiese skaalmodel, is die Tintanic doelbewus ’n abstrakte weergawe van die oorspronklike skip.

Die ekstra ‘n’ in Hart het die model alleen gebou. Dit bestaan uit ses seksies en kan vir vervoer in twee groot helftes verdeel word.
Dit neem ongeveer 20 uur om dit af te breek, te vervoer en weer op te rig.
Die boukoste, insluitend geborgde materiaal, beloop volgens hom sowat R500 000.

Die Tintanic is in 2017 in Villiers bekendgestel en het sedertdien 22 stede in ses provinsies besoek.
Dit vorm deel van The New Titanic Museum SA, wat tans na ’n nuwe perseel verhuis.
Intussen word ’n spesiale “A Night to Remember with Lights”-geleentheid op 27 September van 19:00 tot 21:00 by Riverstone Mall aangebied.
Die model sal met sowat 100 m warmgeel LED-ligte verlig word.
Slegs 41 kaartjies is beskikbaar – een vir elke jaar sedert die wrak in 1985 ontdek is.
