Verdagtes aangekeer ná rooftog by sakeperseel
Drie verdagtes is Woensdag (19 Januarie 2022) omstreeks 02:30 deur die polisie aangekeer nadat hulle ’n sakeperseel in Bophelong Uitbreiding 6 beroof het.

VANDERBIJLPARK. – Een van die verdagtes is ’n 18-jarige vrou.
Die ander twee is onderskeidelik 21 en 26.
Volgens ’n verklaring wat deur die kantoor van die stasiekommissaris, brig. Nikiwe Hoeane, uitgereik is het die polisie gereageer nadat hulle in kennis gestel is van ’n rooftog by ’n sakepereel.
“Met aankoms by die sakeperseel het polisielede gemerk dat die verdagtes besig is om te vlug. Polisielede het die verdagtes agternagesit en was in staat om ’n 18-jarige vrou in hegtenis te neem. Die verdagte het die polisie na haar makkers gelei,” verduidelik Hoeane.
Die polisie kon daarin slaag om ook twee ander verdagtes op te spoor en hulle in hegtenis geneem.
Tydens die arrestasie het een van die verdagtes die polisie ook na ’n tweede misdaadtoneel geneem waar ’n persoon in ’n plas bloed aangetref is.
Die persoon was reeds dood en is vermoedelik met ’n skerp voorwerp gesteek. Die oorledene was glo een van die vermeende rowers se makkers.
Volgens Hoeane word daar beweer dat die verdagte ’n snoepwinkel (tuckshop) binnegegaan het terwyl die slagoffers besig was om ’n film op ’n selfoontoestel te kyk.
Die verdagtes het met behulp van gereedskap ’n gat in die muur gemaak en kon op dié wyse die winkel binnegedring.
Daarna het hulle glo die slagoffers met ’n vuurwapen aangehou en kontant, sigarette, winkelitems, ‘n lugtyd-masjien en ’n selfoon gesteel.
Die verdagtes staar ’n klagte van sakeroof en moord aangekeer.
