Local newsNewsNews

‘n Ekstra spesiale dooprok

Dis nie aldag dat baba in dieselfde rok gedoop word waarin haar ma en tannies gedoop is nie, maar hierdie dooprok is selfs nog meer besonders ...

SASOLBURG. – Zoey Van Vuuren word Sondag, 23 Januarie 2022 gedoop. Sy sal die vierde een van haar familie wees wat die voorreg het.

Haar oupa, Markus Willers het die rok self gehekel vir sy oudste dogter se doop, meer as 32 jaar gelede.

Markus Willers met die dooprok wat hy 32 jaar gelede vir sy oudste dogter se doop gehekel het. Foto: Gerda Bruinette

“Dit het my drie maande geneem om die wye dooprok te hekel. Ek het daardie jare nog voltyds gewerk en kon dus net in die aande aan die rok werk.

“Ek kon ook nie die patroon lees nie, maar het wat ek moet doen vanaf die prentjie ontsyfer,” vertel Markus trots.

Hier op die einde het een ry ‘n uur geneem om te voltooi. Nadat sy oudste dogter in die besonderse rok gedoop is, is die rokkie gebêre.

Later is ook sy ander dogters in die rok gedoop. Vir die doop geleentheid hierdie Sondag het hy die rok mooi uitgewas en laat droog word.

Dis nog net so mooi soos in 1990. Markus bak ook die koek vir die tee na Sondag se erediens.

Hierdie Oupa is ‘n man van vele talente. Nie net is hy bobaas bakker en kosmaker nie, hy maak ook klere.

So het hy reeds sy twee oudste dogters se troues vir hulle gereël en alles gedoen van die blomme tot by die kos.

Vir sy jongste dogters het hy ook hul matriekafskeidsrokke self gemaak en was hy ook onder andere verantwoordelik vir sy middelste dogter, Lize-Mari van Vuuren se trourok, en die manne se onderbaadjies.

“My jongste trou nou einde Maart. Ek doen alles. Van die manne se onderbaadjies, die strooimeisie rokke, bloese vir die moeder en skoonmoeder tot by die bruid se rok, die blomme en die kos,” vertel hy met ‘n vonkel in die oog.

Markus se hande staan vir niks verkeerd nie. “Ek kan alles doen behalwe metaalwerk en ek klim nie op hoë goed soos die dak nie,” beduie hy.

Hy het homself geleer bak en klere maak en het op laerskool al leer hekel. Sy ouers het gereeld by die bure gaan kaart speel in die aand. Hy het niks gehad om te doen nie, toe leer hulle hom hoe om ‘n kombers te hekel.

Daarna het hy sommer vir al die plaaswerkers kepsies gehekel. Maar sy grootste trots bly steeds die dooprok.

“Ek moes die moue so ‘n bietjie korter maak vir klein Zoey,” sê hy en vryf ‘n slag oor die sagte materiaal.

Klein Zoey gaan mooi lyk, nes haar ma en tannies ook mooi gelyk het toe hulle gedoop is. Dis gewis.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button