Local newsNews

Hoofsweep Rapport Nr 41 – Midvaal neem kennis van inwoners se behoeftes

Die GOP Prioriteitsvraelys is by u wyk se publieke vergaderings, u wyksraadslid, asook die Speaker se kantore in Mitchellstraat, Meyerton in hardekopie beskikbaar en moet teen die 11de Februarie 2022 weer by die Speaker se kantore ingehandig word.

Deur Raadsheer Phil C. Pretorius – DA-Hoofsweep: Midvaal Plaaslike Munisipaliteit

Publieke vergaderings is ʼn baie goeie platform om die ontwikkeling van munisipaliteite en wyke te bespreek en behoeftes te bepaal. Publieke vergaderings vir die Midvaal Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP), (Integrated Development Plan – IDP) vind plaas vanaf Januarie tot Februarie 2022. Sien www.midvaal.gov.za asook die Midvaal facebook-blad.

Gedurende die GOP publieke vergaderings plaas inwoners hulle voorgestelde projekte op ʼn prioriteitslys. Die GOP gee elke wyk die geleentheid om voorstelle te maak tov hulle unieke behoeftes. Dit is die inwoners se wenslys en is nie noodwendig finale goedgekeurde projekte nie. Die munisipaliteit evalueer die voorgestelde projekte om te bepaal of dit ʼn plaaslike munisipale bevoegdheid is, dit die gemeenskap van daardie wyk oorhoofs sal bevoordeel en ook of dit in die begroting sal inpas. Die begroting van die munisipaliteit word elke jaar in Maart as konsepdokument voorgelê en na interaksie met die gemeenskap in Mei goedgekeur vir die finansiële jaar wat loop van Julie tot Junie die daaropvolgende jaar.

Die GOP vra dat die raadslid van elke wyk die inwoners sal ken mbt behoeftes tov projekte vir hul wyk. Dit word dan gekonsolideer in ʼn prioriteitslys wat deur die munisipaliteit opgeneem word in die GOP dokument vir oorweging sodra befondsing beskikbaar is. Projekte word hier gereeld verwar met klagtes en ons vind dat talle mense die vergaderings bywoon om klagtes te bespreek wat meer geredeliker deur ander platforms hanteer kon word. Inwoners word dus aangeraai om nie te wag vir die publieke vergaderings om klagtes onder die raadslid se aandag te bring nie maar so gou as moontlik op die verskeie platforms tot hul beskiking vir die doel. Die GOP is dus nie die platform vir slaggate, grassny, straatligte wat nie werk nie, en soortgelyke bestaande infrastruktuur nie. Die GOP is behoeftebepaling vir projekte soos spoedhobbels, nuwe straatligte in sekere areas, nuwe teerpaaie, sportgeriewe, parke, voetpaaie, ens. By die publieke vergaderings sal die doel van die GOP bespreek word en die inwoners die geleentheid gegee word om hulle projekte te lys vir hulle wyk. Die 2022 vergaderings vind plaas soos volg – Wyk 1: 15/01, Wyk 2: 10/01, Wyk3: 11/01, Wyk 4: 17/01, Wyk 5: 18/01, Wyk 6: 24/01, Wyk 7: 25/01, Wyk 8: 26/01, Wyk 9: 19/01, Wyk 10: 01/02, Wyk 11: 20/01 & 02/02 & 03/03, Wyk 12: 22/01, Wyk 13: 07/02, Wyk 14: 08/02, Wyk 15: 09/02 (soos geadverteer sedert Desember 2021).

Die GOP Prioriteitsvraelys is by u wyk se publieke vergaderings, u wyksraadslid, asook die Speaker se kantore in Mitchellstraat, Meyerton in hardekopie beskikbaar en moet teen die 11de Februarie 2022 weer by die Speaker se kantore ingehandig word. ʼn Sagtekopie kan ook by Midvaal se nuwe kommunikasietoepassing (App) MyMidvaal afgelaai word en moet teen die 14de Februarie 2022 teruggelaai word.

Raak betrokke by die bestuur van jou wyk, dit is jou reg.

Trotse Midvaal Groete. Phil.

Web: www.midvaal.gov.za
Facebook: Midvaal Local Municipality en Midvaal News Network
Tel: 0861 643 8225
MyMidvaal App

 

 

Midvaal Raadsheer Phil C. Pretorius

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button