HTS Carel de Wet spog met nuwe adjunkhoof
VANDERBIJLPARK. - Die Carels spog sedert die einde van verlede jaar met ‘n nuwe jong dinamiese adjunkhoof, mnr. Jaques Moorcroft.

“Ek sien daarna uit om ‘n verskil te maak by die skool, nie net akademies nie, maar ook op sportgebied,” sê die nuwe man in die stoel.
Maar Jaques (ja sy naam word spesiaal so geskryf, want hy is ook spesiaal), het as afrigter van die skool se o.14 span gehelp dat die gesogte Virsekerbeker in die skool se voorportaal kan pronk!
Hiermee saam het hy ‘n einde gemaak aan die skool se 25 jaar rugby-droogte. Jaques is ook aangestel as die Valke-Suid hoofrafrigter vir 2020 tot 2023.

Hoewel hierdie alles nuwe hoogtepunte en gebeure is, is Jaques geen onbekende in plaaslike onderwys- en sportkringe nie.
Hy is ‘n Valie in murg en been wat aan die Laerskool Frikkie Meyer skoolgegaan het en in 2006 aan HTS Carel de Wet gematrikuleer het.
Jaques het reeds in die laerskool in rugby uitgeblink en trots vir die Vaaldriehoek uitgedraf. In die hoërskool het sy passie vir sport verder gegroei, maar het hy ook sy liefde vir wetenskap ontdek.
Sy universiteitsjare is natuurlik gekenmerk deur baie sosiale geleenthede en die eer om vir NWU-Vaal se eerste span rugby te speel.
Aan die begin van sy onderwysjare het hy by HS Dr. Malan en LS Leeuwspruit skoolgehou. In 2012 het hy sy weg gevind tot by die Carels, waar hy as onderwyser in fisiese wetenskap aangestel is.
Hy is in 2019 tot departementshoof fisiese wetenskappe bevorder. Behalwe vir sy groot passie vir rugby en afrigting, spandeer hy ook graag tyd in die gimnasium … wat hy as ontspanning bestempel.
Jaques is getroud en het ‘n seun. Die gesin gaan binnekort effens groter word. Jaques en vroulief Le-Jainé sien uit na die koms van ‘n nuwe baba dogtertjie.
