Jong swemmer stuit vir niks
Die jong swemmer droom groot, werk hard en gaan dit nog ver bring.
MEYERTON. – Geosh Nienaber, ‘n graad 9 leerder aan die Hoërskool Dr Malan, het onlangs ses medaljes by die EGA Somerkampioenskap in Germiston losgeswem.
Dit was sy eerste groot gala byeenkoms waar hy in die S8 kategorie geswem het. Voorheen het hy saam met ander van sy ouderdom in die gewone kategorie deelgeneem.
Alhoewel hy daarvan hou om sy tye teen die gewone swemmers te meet, is daar sekere swemstyle waarmee hy sukkel.
So is hy al per geleentheid gediskwalifiseer in die borsslag omdat hy nie presies soos die ander swemmers kan skop nie.
Geosh en sy tweelingbroer, Seth is destyds te vroeg gebore. Seth was okay, maar Geosh het ‘n mate van serebraal gestremdheid gehad.
Sy ouers het egter van die begin af besluit om alles in hul vermoë te doen om te verseker dat hy ‘n normale lewe het.
Sy ma, Esté Nienaber sê Geosh moes van kleins af baie hard werk en het arbeid-, spraak- en neuroterapie ondergaan.
Hy was maar vier jaar oud toe die dokters botoks in sy dyspiere ingespuit het in ‘n poging om die spiere te verleng. Daarna was sy bene vir weke in gips en selfs nadat die gips afgekom het, moes hy met spesiale stutte slaap.
Die dokters het ook aanbeveel dat hy elke dag moet oefen en gesond eet om te verseker dat hy spiere kan bou.
Kleintyd het hy geswem, maar toe begin trampolien spring alvorens hy in 2019 weer na sy eerste liefde swem toe teruggekeer het.
Geosh het ‘n groot bewondering vir die voormalige SA swemkampioen en Paralimpiese atleet, Natalie du Toit.
“Sy is vir my ‘n groot inspirasie want sy het goed presteer en toe verloor sy haar been. Dit moes vir haar baie erg gewees het, maar ten spyte van haar verlies het sy besluit om aan te hou oefen en verder te gaan. Net soos sy haar nie laat keer het nie, gaan ek nie toelaat dat ek gekeer word nie,” vertel hy vasberade.
Esté sê Geosh het nog altyd deursettingsvermoë gehad. “Hy gee nie tou op nie. Ek dink dit help ook baie dat hy ‘n tweelingbroer het wat hom van kleinsaf net saamsleep om alles te doen. Seth is ‘n atleet en het vir Geosh nou ook al so ver om hokkie te speel. Hy stuit vir niks nie,” vertel sy trots.
Geosh sal einde Maart aan die nasionale kampioenskappe vir persone met gestremdhede deelneem waar hy finaal sal hoor vir watter kategorie hy kwalifiseer.
Alhoewel hy besonders goed vaar, is hy versigtig optimisites oor moontlike toekomstige swemprestasies.
“Natuurlik sal dit vir my ‘n groot eer wees as ek eendag vir my land kan deelneem by die Paralimpiese Spele.”
Hy besef egter dit sal harde werk vereis en daarom oefen hy ses dae per week. Hy spandeer ook nie al sy aandag aan swem nie.
Geosh is akademies ook baie sterk en was verlede jaar onder die Top 10 van Dokkies se Graad 8’s.
Afhangende wat gebeur met sy swemloopbaan, sal hy graag eendag in n mediese rigting wil studeer.
“Miskien word ek nog ‘n radioloog. Vir eers hou ek my opsies oop. Ek het ‘n wye belangstellingsveld,” glimlag hy.
Wat hy ookal besluit, van Geosh Nienaber gaan ons nog baie hoor en sien.
