Local newsNewsNews

‘n Biologieles van ‘n ander aard

Dit was maar 'n bloederige affêre, maar dit was 'n les wat nie gou vergeet sal word nie.

VANDERBIJLPARK. – Hulle sê ‘n boer maak ‘n plan, maar ‘n onderwyseres maak sommer baie. Vra maar vir Lizélle Wilkinson.

Die juffrou gee onder andere biologie aan die Oriah Pre- and Primary School vir die graad 5 en 6 leerders.

Die privaatskool in Vanderbijlpark volg die Cambridge kurrikulum en die lesse hierdie kwartaal fokus op organe.

Zanne Labuschagne en Lizélle Wilkinson met van die varkorgane.

Lizélle glo kinders leer die beste as ‘n vak so prakties moontlik aangebied word. Daarom het sy begin rondvra om te hoor waar sy vars varkorgane in die hande kan kry.

Uiteindelik het ‘n vrou van ‘n varkplaas laat weet sy kan help, maar ook gewaarsku die organe is nou nie skoongeskrop nie.

Die betrokke biologieklas is vir die Maandag beplan. Die organe is al die Vrydag gaan afhaal en vir eers in die buurvrou se vrieskas gestoor.

“Ons is ‘n paar wat saamry en my kollega was nou nie te ingenome toe ek met sak en al agter in sy motor inklim Maandagoggend nie,” lag sy.

“Daar het al so klankie van die sak se kant afgekom, so ons was maar almal bietjie groenerig om die kiewe toe ons by die skool stop.”

Die sak met die organe is vir eers so ver as moontlik van die klasse gelos om solank te ontvries. Die biologie periode is om 12:30.

Van die leerlinge het maar bietjie gegril, maar almal het met aandag geluister.

“Dis eenkeer in ‘n leeftyd wat mens so iets doen. Ek en my kollega, Zanne Labuschagne (wat biologie vir graad 4 en 7 aanbied) het besluit om al die leerlinge van graad 4 af bymekaar te maak vir die demonstrasie,” vertel Lizélle.

Tafels is buite gepak, met swartsakke oorgetrek, die mes is skerpgemaak, die sak met organe gaan haal en die juffrouens het hul plastiese handskoene aangetrek.

Die kinders het op ‘n veilige afstand hul sit gekry. Die les kon begin.

“Kyk, dit was omtrent ‘n gedoente. Toe ons die hart sny, toe spuit die bloed en die maag was nog vol onverteerde kos. Ons kon alles vir die kinders wys.

“Dit was maar grillerig, maar almal het baie geleer en ons het goeie terugvoer van die skool en ouers ontvang,” sê Lizelle wat op ‘n stadium genoodsaak was om ‘n wasgoedpennetjie oor haar neus te pen om die ergste reuk af te weer.

Lizelle het gesê sy is baie dankbaar teenoor almal wat gehelp het om van die unieke les ‘n groot sukses te maak.

“Dit was alles die moeite werd. Ons het ook baie mooi foto’s van elke orgaan wat ons in die vervolg kan gebruik,” het sy tevrede na afloop van die les laat weet.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button