Local newsNewsNews

Herman, die hartklop van die ERT

Hy lag as ek vra wat maak hy in sy vrye tyd, want die ERT en die kunste is sy werk en sy ontspanning.

SASOLBURG. – Herman van Niekerk en die Etienne Rousseau Teater in Sasolburg het oor die jare sinoniem met mekaar geraak.

Vandat Sasol destyds besluit het om die teater op te knap en te restoureer, was Herman die een wat aan die stuur van sake geplaas is.

Nou sorg hy dat die teater aan die gang bly, selfs deur hierdie moeilike Covid-jare. Die kunste, waaronder veral musiek, lê Herman na aan die hart.

Hy is gebore en getoë in Bloemfontein en dit is ook hier waar hy na matriek kommunikasiekunde met onder meer kunsgeskiedenis en musiek as vakke studeer het.

Hy het ook sy onderwysdiploma hier voltooi. Sy liefde vir musiek kom al sedert sy kinderdae. Hy het klavier, orrel, kontrabas en die hobo (oeboe) leer speel.

Laasgenoemde is ‘n blaasinstrument wat in sy oorspronklike vorm van voor die barok-era dateer.

“Ek dink ek kry ‘n beroerte as ek nou weer een probeer blaas, want die instrument word onder groot druk geblaas,” lag Herman.

Hy het destyds in die Vrystaat Jeugorkes gespeel en was deel van die Vrystaat Jeugkoor. Later jare het hy saam met die Universiteit van die Vrystaat se koor in Europa gaan toer.

Deur die jare het Herman baie gereis en het hy oral vriende gemaak.

“Ek glo nog altyd die lewe bestaan uit verhoudings. Ek behou kontak met mense, dit is vir my belangrik,” sê Herman.

Hy het nog altyd daarna gestreef om die kunste te bevorder.

Hy onthou hoe hy as kultuurbeampte by die destydse RAU (vandag die Universiteit van Johannesburg) etensuurkonserte vir studente, asook verskeie kooroptredes en simfoniekonserte gereël het.

Herman woon nou al vir jare in Johannesburg, want “dis hier waar die dinge gebeur en Sasolburg is nie ver nie.”

Hy lag as ek vra wat maak hy in sy vrye tyd, want die ERT en die kunste is sy werk en sy ontspanning.

“Ek lees graag en geniet die internet baie. Dit is nou soveel makliker om in kontak met almal te bly en om op hoogte te bly van wat in die kunstewêreld aangaan,” vertel hy.

Hy behoort ook steeds aan die Johannesburg Musiek Vereniging wat al sedert 1903 bestaan.

Die meeste van sy tyd wentel egter om die Etienne Rousseau Teater.

“Ek hoop om weer die toneelgroep hier te kry wat voorgeskrewe werke van Shakespeare opvoer. Andersins beplan ons nie te ver vooruit nie,” verduidelik hy.

Die pandemie het sy merk op die teater gelaat, maar hopelik sal die uitvoerende kunste eersdaags weer 100% ondersteun kan word.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button