Oud-Emfuleni-raadslid Nothnagel se raad aan nuwe lede
"Dit is of reg of weg. Die bal is in julle hande."
Oud-Emfuleni Raadslid Phillip Nothnagel skryf:
Die handjievol gesoute raadslede wat in Emfuleni (ELM) oorgebly het, is blykbaar positief na ‘n opleidingsessie saam met hul nuutverkose kollegas.
Op regte politieke partyvlak is die groot partye nog in “stil bek is ‘n heel bek”-mode. Ek dink hulle besef dat niemand niks kan belowe aangaande dienslewering of klagtes voortspruitend uit die totale ineenstorting van die infrastruktuur in ELM nie.
Dit is onmoontlik om iets wat oor 29 jaar verwoes is, op die korttermyn reg te stel.
Ek twyfel sterk of koalisies met kleiner partye die ANC se redding gaan wees. Soos die situasie tans is, gaan dit baie moeilik wees vir raadslede om die beloftes wat hulle voor die verkiesing gemaak het, gestand te doen. Die gesegde “You do not bite the hand that feeds you” mag dalk ‘n groot rol speel in die toekoms.
Dit sal veral ter sprake kom tydens goedkeuring van kontensieuse items wat moontlik nadelig of onaanvaarbaar mag wees vir die kiesers, wat in hul voor-verkiesings beloftes geglo het en juis daarom vir hulle gestem het.
As afgetrede raadslid wens ek die nuutverkose raad voorspoed toe.
Die redding en toekoms van ELM hang van julle af. Onthou net een ding: Die laaste opsie vir ELM is volle Administrasie in terme van Artikel 139 (1) (c) van die Grondwet.
Dit is of reg of weg. Die bal is in julle hande.
Net die tyd sal leer.

****************************************************************
