Local newsNewsNews

Rekeningkunde ‘n nommerpas rigting vir Dokkies se Pieter

Die Hoërskool Dr. Malan se toppresterende matrikulant van 2021, Pieter Cilliers, gaan B.Com Forensiese Rekeningkunde aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus studeer.

MEYERTON. – Dié slimkop wat die afgelope vyf jaar agtereenvolgend as sy skool se Dux-leerling aangewys is, het nog altyd ’n liefde vir getalle gehad en glo dat ‘n rekeningkundige rigting daarom nommerpas vir hom is.

Van al sy vakke het Pieter rekeningkunde die meeste geniet en dit word ook in sy goeie punte vir dié vak weerspieël.

Pieter het onderskeidings in Afrikaans Huistaal (87%), Engels (89%), Wiskunde (86%), Lewensoriëntering (91%), Rekeningkunde (94%), Besigheidstudies (89%), Rekenaartoepassingstegnologie (92%) en Fisiese Wetenskappe (96%) behaal.

Hy vertel dat tyd sy grootste uitdaging tydens sy matriekjaar was.

“Dinge gebeur so vinnig en dit voel amper asof jy nie kan byhou nie.

Dit was moeilik om in ‘n skedule in te kom wat genoeg tyd vir alles oopgelos het,” bieg hy. Pieter vertel dat hoewel die wêreldwye Covid-19 pandemie aanvanklik talle struikelblokke gebied het – veral toe die grendeltydperk in sy graad 11-skooljaar begin het – hy na ‘n ruk aangepas het by die nuwe normaal.

“Dit was aanvanklik moeilik om sonder die fisiese “one-on-one” klasse te studeer, maar na ń ruk het ek aangepas en dit het vir my soos ‘n nuwe normaal geword,” vertel hy.

Pieter se raad aan matrikulante van 2022 is om hard te leer maar ook tyd te maak vir ‘n gebalanseerde leefstyl.

“Jy moet hard leer maar steeds jouself genoeg tyd gee om te ontspan. Dit is ook baie belangrik om oefening in te kry, want vars lug laat jou brein sommer twee keer vinniger werk,” meen Pieter.

In sy vrye tyd is Pieter dol oor Playstation-speletjies en fliek kyk.

Hy is ook lief vir hardloop en meen dit is ‘n lekker manier om net te ontspan en jou kop skoon te maak.

Hy geniet dit om muurbal speel en om Saterdae aan die parkrun deel te neem.

Pieter bedank die onderwysers van die Hoërskool Dr. Malan vir hul ondersteuning en God vir sy talent.

Hy meen dit is belangrik om te bly glo in Onse Vader in die hemel.

Pieter gee erkenning aan sy ouers, familie, sy afrigter (Carien Scott) en die onderwysers by Hoërskool Dr. Malan wat hom deur sy matriekjaar gedra het.

Pieter is die seun van Pieter Cilliers, algehele bestuurder by OSEC (‘n ingenieursmaatskappy) en Zani Cilliers, ‘n matrone by Trimed (‘n sub-akute verplegingsentrum).

Sy suster Zan-Mari Cilliers het vanjaar met haar hoërskoolloopbaan aan die Hoërskool Dr. Malan begin.

Pieter Cilliers, die Hoërskool Dr. Malan se toppresterende matrikulant wat altesaam agt onderskeidings in die nasionale seniorsertifikaat-eksamen behaal het, gaan B.Com Forensiese Rekeningkunde aan Noordwes Universiteit se Potchefstroom-kampus studeer. Foto: Verskaf

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button