Local newsNewsNews

SKOOLHOOF REAGEER: “SKOOLSWEMBAD NOU VISDAM EN GROENTETUIN”

Mnr. C.J. van Dyk, hoof van Vereeniging Gimnasium, het die afgelope week reageer op negatiewe (en positiewe) kommentaar oor die skool se besluit om die swembad in 'n akwaponiese en hidroponiese sentrum te omskep.

Lees sy volledige brief hier:

OPE BRIEF AAN REDAKTEUR EN OUERS EN OUD-LEERLINGE VAN VEREENIGING GIMNASIUM

Dit is met ‘n beklemming om my hart en diepe teleurstelling waarmee ek die afgelope week se negatiewe kommentare op bogenoemde berig gelees het.

Tog is ek as hoof (en inwoner van Vereeniging) ook dankbaar vir die positiewe opmerkings hierop en wil ek my opregte dank uitspreek teenoor mense wat werklik die goeie dinge raaksien wat ‘n uitstekende skool vir sy gemeenskap beteken.

Ek kom tot die besef dat mense wat nie ingelig is nie, baie makliker afbrekende en negatiewe kommentaar lewer om verskeie redes :

– Hulle dra nie kennis van die omstandighede waarom die besluit geneem is nie.

– Is oud-leerlinge wat emosionele uitsprake maak, maar geen werklike bydrae tot die ontwikkeling en uitbouing van die skool wil maak nie.

– Is mense in die gemeenskap wat ‘n geleentheid sien om ‘n bewese uitnemende en innoverende skool af te breek.

Graag wil ek dan hiermee aan die gemeenskap , oud-leerlinge en alle toekomstige Gimmies meer inligting verskaf, sodat almal kan weet wat Vereeniging Gimnasium werklik aan die gemeenskap en sy kinders bied en waarom ons op die voorpunt van tegnologiese ontwikkeling staan en die meeste geleenthede vir ons kinders bied.

Die skool se swembad is vir jare verhuur aan ‘n swemskool en hierdie maatskappy het die swembad in stand gehou en gebruik vir doeleindes van ‘n swembad.

Dit was ‘n uiters suksesvolle ooreenkoms vir beide partye.

Ongelukkig is die kontrak beëindig in die COVID-pandemie a.g.v. geen sport wat beoefen mag word nie,met die gevolglike finansiële implikasies.

Die instandhouding van die swembad verg nie net baie werkure en mannekrag nie, maar die maandelikse finansiële implikasie vir chemikalië en instandhouding is geweldig hoog.

Die Beheerliggaam, bestuur en personeel het ander gebruiksmoontlikhede van die swembad begin ondersoek en die volgende opsies was op die tafel : – Gooi swembad toe.

Die gevoel was dat die swembad ‘n bate is vir die skool en baie emosionele uitsprake van oud-leerders gaan ontlok.

– Kry ‘n ander huurder vir ‘n swemskool. Geen ander tenders is ontvang nie.

– Omskep die swembad in ‘n onthaallokaal/saal vir opening en byeenkomste en verhuur dit vir funksies. Ongelukkig is die kostes vir sodanige ontwikkeling geweldig hoog en totaal onbekostigbaar sonder finansiële hulp.

– Omskep die swembad in ‘n Akwaponika en Hidroponika sentrum, wat deel kan vorm van die kurrikulum en voedselsekuriteit kan verseker in die gemeenskap en koshuis.

Die Bestuur en Skoolbeheerliggaam van Vereeniging Gimnasium neem alle besluite na deeglike bespreking, ondersoeke en oorweging en doen alles tot voordeel van ons kinders en die ontwikkeling en ondersteuning van ons gemeenskap.

Akwaponika en Hidroponika word reeds as Beroepsgerigte vakke ingelyf in die kurrikulum en weer eens is Gimnasium reeds ligjare voor ander skole in die omgewing met hierdie projek. Gimnasium is reeds twee jaar deel van die Loods-projek van die Departement van Onderwys t.o.v. Beroepsgerigte vakke in graad 8 en 9 en hierdie projek gaan ‘n verdure uitbreiding hierop wees.

Gimnasium is die enigste skool wat dit kan aanbied. Die sentiment rondom die swembad kan ten volle begryp word, maar oningeligte emosionele en negatiewe afbrekende kommentaar is ongevraagd.

Om swem aan te bied as ‘n sport of as deel van die LO-sport, vereis personeel en ‘n lewensredder wat altyd beskikbaar moet wees en nog vele meer veiligheidsvereistes van die Departement van Onderwys, veral na die hartseer verdrinking van ‘n kind tydens ‘n kamp.

Geweldige veiligheidsvereistes word gestel waar watersporte/-deelname betrokke is.

Die gebruik van die swembad vir leerders/kinders van hierdie skool of in die gemeenskap vir swem as sport of ontspanning, is dus nie net ‘n finansiële las nie, maar volgens die Departementele regulasies en veiligheidsvereistes onmoontlik.

‘n Pragtige swembad wat met groot moeite self ontwikkel is, het vanaf 2020 ‘n wit olifant geword wat nuwe innoverende idees geverg het om steeds bruikbaar te bly vir die skool.

Ons is geweldig trots op ons 21 hektaar terrein en doen gereeld opgraderings om die terrein netjies en mooi te hou.

Alles kom egter met ‘n koste en finansiële steun sal meer waardeer word as negatiewe opmerkings van mense wat nie eens weet hoe ons terrein nou lyk nie.

‘n Vis leef nie in skoon water vol chemikalië nie, dus is die water vervang met boorgatwater en lyk dit bruin.

Rondom en in die swembad vind steeds instandhouding plaas en dit is definitief nie ‘n stinkende visdam nie.

Ek nooi elkeen uit om ons te kom besoek, sodat u ingeligte uitsprake kan maak en self kan sien wat Gimnasium nou bied.

U sal verstom wees om te weet dat Gimnasium vandag bekend is daarvoor dat ons die wydste kurrikulum aanbied volgens Hoofkantoor :

– 25 vakke vanaf graad 10-12, bied die meeste geleenthede vir ons kinders se toekoms.

– 2 Beroepsgerigte vakke in graad 8 en 9, afgesien van die normale 9 leerareas.

– Vol akademiese rigtings. – Vol Tegniese studierigtings (Elektries, Motors en Pas-en-Draai, met uitstekende toegeruste werkswinkels)

– Tegniese Wiskunde en Tegniese Wetenskap.

– Vol Landbou studierigtings (Landbou Bestuur, Landbou Wetenskap en Landbou Tegnologie).

– Sport-en-Oefenkunde as studierigting (Enigste skool in Vaaldriehoek)

– Hidroponika en Akwaponika sentrum vir kurrikulum aanvulling, voedselsekuriteit, gemeenskap ondersteuning en finansiële inspuiting.

Bogenoemde verg uitstekende personeel wat bekwaam en professioneel is.

Ons stel nie professioneel gekwalifiseerde mense aan om swembaddens skoon te maak en in stand te hou nie.

Ons is trots op ons personeel, want elkeen dra by om Gimnasium ‘n skool van uitnemendheid te maak. Ek glo en vertrou dat bogenoemde inligting vir almal wat kommentaar wil lewer, iets positiefs sal bied om oor te praat en die uitstekende skool/skole van ouds wat geamalgameer het, steeds positief kan bemark en uitdra as Vereeniging Gimnasium.

Ons wil u uitnooi om positiewe insette en bydraes te maak, want ons besef dat alle ouers, oud-leerlinge en huidige leerders omgee en wil sien dat hierdie skool voortgaan om uitnemende onderrig te bied.

Ten slotte moet ek noem dat die berig wat aan Vaalweekblad verskaf is, gegee is onder die opskrif : “VOEDSELSEKURITEIT ‘N MOET”.

Die eensydige verandering aan die opskrif na “ SKOOLSWEMBAD NOU ‘N VISDAM EN GROENTETUIN” is ongelukkig ‘n negatiewe opskrif met positiewe inhoud.

Ons waardeer die insette van die media en het ‘n ontsaglike waardering vir u insette in die bemarking van ons mooi skool, maar sensasiesoekende opskrifte ontlok ongelukkig ook negatiewe opmerkings.

Tog wil ons ons dank en waardering uitspreek aan Vaalweekblad en Media24 vir die bemarking van Vereeniging Gimnasium op u onderskeie platforms.

Vereeniging Gimnasium bied die beste vir ons leerders en sal altyd in die toekoms op die voorpunt van ontwikkeling wees en die beste geleenthede vir ons kinders bied.

Die uwe Mnr C.J. van Dyk

Die Hoof Vereeniging Gimnasium

VEREENIGING

27 Januarie 2022″  

*Het jy die storie gemis? Kyk gerus ons dokumentêre video:

*Lees Vaalweekblad se oorspronklike berig hier: 

Skoolswembad nou ‘n visdam en groenteplaas

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button