Dié tyd van jaar is hartseer vir Vaal!
Dié tyd van die jaar (einde Januarie begin Februarie) is beslis nie die lekkerste tyd in die geskiedenis van die Vaal nie. Drie buitengewoon groot tragedies het deur die jare in dié tyd gebeur.
Op 28 Januarie het inwoners weer die Henley-on-Klip busramp herdenk waartydens 23 leerlinge gesterf het. Tydens die busramp in 1970 het die bus op ‘n treinspoor gaan staan.
Kinderheld Johan le Roux (17) het daardie dag besef wat gaan gebeur. Terwyl die trein op pad was, het hy ‘n venster van die bus oopgeskop en ‘n paar kinders se lewens gered deur hulle deur die venster te stoot.

Hy het ook die 8-jarige Petrus van der Walt gered, daarna ook vir Willem Nel gegryp en hom net betyds by die noodvenster uitgegooi. Die trein het die bus kort daarna volspoed getref.
Op 1 Februarie het inwoners ook die HS Driehoek-tragedie van 2019 herdenk waartydens vier leerlinge (Roydon Olckers, Jandré Steyn, Marli Currie en Marnus Nagel gesterf het).
En ja, die seer is nog baie rou vir baie inwoners. Nog ‘n held, Roydon Olckers, het daardie dag maats uit die pad gestamp voordat die betonbrug ook op hom geval het.

Die Hoërskool Driehoek het Dinsdag, 1 Februarie ‘n spesiale opening gehad ter nagedagtenis aan die vier leerlinge. Die spesiale boodskap wat die skool met sy leerlinge op die hartseer dag se herdenking deel is:
Jeremia 29:11. Ek weet wat Ek vir julle beplan het,” sê die Here.” “Ek beplan voorspoed vir julle, nie teëspoed nie. “Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê.”
Ons dink ook op 2 Februarie terug aan verlede jaar se se skietvoorval buite die Slap Tjips Winkel in Vanderbijlpark waartydens die 18-jarige Nathan Hebler noodlottig getref is. Daar was Woensdagaand ‘n spesiale kranslegging vir hom gehou.

