Ek sê maar net …
Hier rond gebeur daar altyd iets en party goed kan mens amper nie eens oorvertel nie ...
Ek wonder soms of die dinge wat hier gebeur ook in ander dorpe gebeur? Nou die dag ry ek en Ma na een van die winkelsentrums.
Straat-af moet ek wyd ry om die hoërskoolleerlinge wat in bondels die pad vol loop mis te ry.
Nie een met ‘n masker nie en hulle doen ook geen moeite om te kyk of daar motors in aantog is nie.
Kort daarna beland ons agter die ou perdewa met die hordes swart sakke agter op.
Ja, een van die waaroor daar al so baie gekla is en party sê dis dieremishandeling en ander sê dit is nie.
Ek is nie ‘n perdekenner nie, ek weet net dis ‘n probleem om agter die waentjie te beland, met motors van voor en ‘n hele stoet van agter.
Dan is daar die motoriste wat blykbaar nog nooit van verkeersreëls gehoor het nie.
Die een lot wil 120 in ‘n 80 km per uur sone en die ander kruip op 40 km per uur.
Tussenin is daar al hoe meer wat blykbaar nie die memo gekry het dat almal nommerplate op moet hê nie.
Praat nou nie hier van die nuwe motors wat nog met papiernommers in hul vensters ry nie.
Nee, dis daai modelle van alle groottes, tipes en ouderdomme wat so deur die verkeer vleg sonder ‘n nommerplaat in sig.
Lang jare terug is die klas van verkeersoortredings en dinge nie toegelaat nie.
Ek weet party mense, veral die jonger geslag, sal nou dink ek jok, maar in die dae toe ek nog op skool was, het Vanderbijlpark ‘n verkeersafdeling gehad.
Die ooms en tantes van dié afdeling het uniform gedra en was baie streng.
By groot kruisings waar skoolkinders te voet of per fiets moes oor het die ooms vroegoggend en in die middae gestaan en arms swaai.
Weë die een wat nie op daardie tekens gereageer het nie!
Nou wonder ek wat het van die verkeersafdeling geword?
Miskien as hulle nou weer so langs die paaie begin staan om die nommerplaatlose jaers te vang en by die kruisings die skoolkinders beduie wanneer om oor te loop…
Dit mag dalk net help. Is nou nie dat ek iemand wil voorskryf nie. Ek sê maar net.
Uiteindelik het ons die winkelsentrum veilig bereik. Gedink dit was die einde van die dag se verrassings. Toe nou nie.
Ek en Ma het haar tegelyk gewaar. ‘n Ouerige antie met ‘n helder gepunte rok besig om geld te trek. Niks snaaks daaraan nie.
Net sy was kaalvoet. Nie my-skoene-druk-my of my-skoen-het-gebreek-en-nou-moet- ek-dit-in-my-hand-dra nie, nee, aspris kaalvoet.
Ek weet darem nie. Ek en skoene is ook nie maats nie, maar kaalvoet winkel toe?
Aan die anderkant, miskien is dit die beste vlak van vryheid om te bereik.
Om kaalvoet geld te trek en dan met vaste doelgerigtheid die drankwinkel te betree vir die naweek se dop … en nie ‘n flenter om te gee oor die res nie.
Dis dié dat ek nou wonder of hierdie goete net hier by ons gebeur? My vriende in ander dorpe kyk my snaaks aan as ek vir hulle die dinge vertel.
Dalk het dit tyd geword om weer ons skoene aan trek, sodat ons voet kan neersit teen die wat wette oortree en die wat nie doen waarvoor hul aangestel is nie. Ek sê maar net.
